Local newsNews

Koeëlreën voor werksplek eis jong pa

Danksy flink speurwerk is verskeie verdagtes reeds kort na die voorval in hegtenis geneem

 

  • SOOS BERIG IN VAALWEEKBLAD VAN 19 APRIL 2024

VEREENIGING. – Baie vrae hang nog in die lug na die skokkende moord op ‘n jong Vanderbijlparkse man, mnr. Armand Swart, verlede Woensdagoggend in Duncanville.
Sover Vaalweekblad kon vasstel, het Armand omstreeks 07:00 pas die elektriese hek by sy werksplek in Van Riet Lowestraat, Duncanville, oopgemaak om in te ry toe ‘n klein wit voertuig vinnig langs hom intrek. Verskeie skote is uit die wit voetuig op Armand se bakkie gevuur, waarna die aanvallers weggejaag het. Na wat verneem word is Armand deur meer as 20 koeëls getref. Hy het op die toneel beswyk.

Van Riet Lowestraat was Woensdag vir ‘n geruime tyd gesluit terwyl die polisie-ondersoek aan die gang was. Die moord is deur kringtelevisie-kameras voor Armand se werksplek afgeneem. Vaalweekblad kon nog nie daarin slaag om die werkgewer vir kommentaar te bereik nie. Die onderneming se naam word in dié stadium weerhou.

Volgens inligting wat nie-amptelik ontvang is, is twee voertuie, ‘n Mercedes Benz C Class en ‘n Hyundai i20 in die aanval gebruik. Die polisie se ondersoekspan het inligting opgevolg wat hulle na Bramley, ‘n residensiële area van Johannesburg, gelei het. ‘n Operasionele plan is uitgevoer en twee verdagtes is vasgekeer en in hegtenis geneem. Beslag is gelê op die Hyunday i20 met vals nommerplate. ‘n Ongelisensieerde AK47-geweer, twee handwapens en ammunisie is ook gevind. ‘n Mercedes Benz Viano wat ook met die aanval verbind word, is daarna opgespoor en ‘n handwapen, ammunisie en leë patroondoppies is in die voertuig gevind.

Danksy flink speurwerk is die Mercedes Benz C Class met vervalste nommerplate ook kort daarna langs die R59-snelweg aangetref. ‘n Ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie is in die voertuig gevind en nog ‘n verdagte is op die toneel gearresteer. Volgens onbevestigde gerugte is een van die verdagtes ‘n polisieman wat by die Johannesburgse polisie-eenheid gestasioneer is.

Armand was die pa van twee jong seuntjies wat al etlike jare saam met sy gesin in Vanderbijlpark gewoon het. Sy familie was teen Vaalweekblad se saktyd nog te ontsteld om met die media te praat.
Volgens kennisse van die gesin was Armand ‘n stil, aangename gesinsman sonder vyande. “Dit is skokkend dat ‘n jong pa op so ‘n wrede manier van sy gesin af weggeruk is,” het een van sy ontstelde bure aan Vaalweekblad gesê.
Die polisie ondersoek die motief vir die moord.

EENHEDE WAT BY DIE ONDERSOEK EN DIE VINNIGE OPVOLGWERK BETROKKE WAS, VERDIEN ERKENNING VIR HUL FLINK OPTREDE:

▪️ SAPS COUNTER INTELLIGENCE INVESTIGATION HEAD OFFICE
▪️ SAPS CI CIT TEAM (MDOC)
▪️ SAPS GAUTENG TRT
▪️ SAPS ANTI GANG UNIT
▪️ SAPS DPC 2 TRACKING TEAM
▪️ GAUTENG TRAFFIC POLICE SATURATION UNIT
▪️ GAUTENG TRAFFIC POLICE AIRWING
▪️ SAPS SEDIBENG FLYING SQUAD
▪️ CAP SPECIALISED OPERATIONS
▪️ TRACKER CONNECT

Dié skermgreep uit ‘n CCTV-video toon Armand se bakkie voor sy werkgewer se hek, terwyl die aanvallers in ‘n wit voertuig (links) aangejaag kom. Dit was enkele oomblikke voordat die aanvallers op Armand en sy bakkie begin skiet het.
Wyle Armand Swart.

 

 
Back to top button