Vrou red ouma van gewapende rowers by Brakpan-skool

'n Blitsige reaksie deur 'n ander motoris het verhoed dat 'n vrou, wat vir haar kleinkind sit en wag het, voor ‘n hoërskool in Brenthurst beroof is.

’n 65-jarige ouma wat Vrydagmiddag voor Hoërskool Die Anker in Tweedyweg vir haar kleindogter gewag het, is deur die dapper optrede van ’n ander vrou gered nadat ‘n man skielik ‘n vuurwapen teen haar been gedruk het.

Was dit nie vir die heldhaftige optrede van omstanders nie, was Alta Barnard dalk haar trouring – die enigste juweelstuk wat sy nog van haar oorlede man, Hannes, oor het – kwyt, berig die Brakpan Herald.

Die voorval het net ná 12:10 plaasgevind toe Barnard, oudergewoonte, vir haar kleindogter (’n Graad 8-leerder) gewag het.

Die wit Hyundai Creta waarin die drie mans weggejaar het, het op die hoek van Thomasstraat en Tweedyweg deur die buitemuur van ‘n woning gebars, waarna die booswigte te voet gevlug het. Foto: Secure Tech

“Ek ry gewoonlik ’n bietjie vroeër en dan sit ek maar rustig in die kar en wag,” het Barnard vertel. “Ek is altyd op my hoede en kyk maar rond, en normaalweg is die ruite van my voertuig opgedraai en die deure gesluit.”

Vrydagmiddag het Alta egter ’n sigaret aangesteek en haar ruit afgedraai.

“Die volgende oomblik het daar ’n wit voertuig reg langs my stilgehou. ’n Groot, geboude man het uitgespring, so halflyf deur my motorruit geleun en ’n vuurwapen teen my been gedruk. Hy het in Engels gesê dat hy my juwele soek. Ek het net die trouring van my oorlede man aan my vinger gehad en dit is geweldig kosbaar vir my.”

Barnard sê sy was vreesbevange en het gesukkel om die ring van haar vinger af te kry. Die man het ongeduldig geraak en die vuurwapen harder teen haar been gedruk terwyl hy sy eis herhaal het. Intussen het ’n tweede gewapende man aan die passasierskant verskyn en haar beveel om die deure oop te sluit.

“In my paniek het ek die ring van my vinger afgekry, maar genadiglik het dit geval en onder die sitplek beland.”

Op daardie stadium het ’n ander vrou, wat waarskynlik die voorval opgemerk het, skuins voor die rowers se voertuig stilgehou en haar toeter gedruk.

“Toe ek dit hoor, het ek ook my eie kar se toeter begin druk. Ek glo dit het veroorsaak dat die mans geskrik het en hulle het terugbeweeg na hul voertuig,” het Barnard gesê. ’n Derde man het agter die stuurwiel vir sy makkers gewag.

Volgens inligting van die polisie het die mans in die rigting van Thomasstraat weggejaag. Verskeie skote is gevuur nadat ’n ander motoris gepoog het om hulle agterna te sit. Die vlugtende rowers het egter beheer oor hul voertuig verloor op die hoek van Tweedyweg en Thomasstraat en deur die buitemuur van ’n woning gebars.

Die drie verdagtes het te voet gevlug en kon nie opgespoor word nie. Verskeie sekuriteitsmaatskappye was vinnig op die toneel en niemand is tydens die jaagtog of ongeluk beseer nie.

“Ek is bitter dankbaar dat niemand seergekry het nie en dat ek darem my ring kon behou. Ek gaan haal my kleinkind al by die skool sedert sy in Graad RR is en het nooit gedink dat so iets met my sou gebeur nie. Dit is moeilik om in die nag te slaap en ek voel onrustig wanneer ek nou by die skool sit en wag,” het Barnard gesê.

Die polisie ondersoek die voorval. Die wit Hyundai Creta wat deur die rowers gebruik is, is vroeër as gesteel aangemeld.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button