WAT ook aan Bongi se ‘kant’ ná woordborg

Die woord 'kant' het vandeesweek opslae gemaak regoor die wêreld en is ook nou in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal geborg.

Bok-gees loop hoog in Suid-Afrika met talle rugbyondersteuners wat in afwagting wag vir vanaand se eindstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland.

Liefhebbers van die spel is egter nie die enigstes wat die manne in groen en goud in die kragmeting ondersteun nie.

“Die WAT staan ook vierKANTig agter die Bokke die komende naweek!”

Só sê die hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Phillip Louw.

Louw vertel dat nadat Wêreldrugby en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie ‘n ondersoek weens ‘n rasklag teen Mbongeni Theo Mbonambi (alombekend as ‘Bongi’) geloods het, is die woord ‘kant’ namens die Springbok-haker geborg.

Die ondersoek het gevolg weens ‘n bewering deur Engeland-voorspeler Tom Curry dat Mbonambi hom glo ‘n ‘white c***’ genoem het. Sosiale media het kort nadat ondersoek bekend gemaak is, gegons oor wat moontlik tot die klag kon gelei het. Sommige gebruikers het geskerts dat Curry die woord ‘kant’ verkeerd interpreteer het.

Wêreldrugby het vroeër die week die saak as afgehandel beskou weens ‘n gebrek aan bewysstukke.

‘Kant’ nou Bongi s’n

Esthe Pretorius en Michelle Burger het ‘kant’ namens die haker geborg in ondersteuning van die Bok-voorspeler.

Louw verduidelik dat die WAT die ‘enigste omvattende woordeboek [is], wat beteken dat ons woorde uit alle variëteite van Afrikaans opneem’.

“Ons is niewinsgewend en dus grootliks op fondswerwing aangewese om hierdie projek te voltooi en dan daarna te hersien. ‘Borg ‘n Woord’ is een van ons fondswerwingsinisiatiewe. Mense kan enige woord vir hulself of vir iemand anders borg of koop. Sodoende help hulle ons om daardie woord se opname en/of hersiening in die WAT te befonds,” verduidelik hy.

Die woord se betekenis

Louw verduidelik dat ‘kant’ as naamwoord 18 betekenisonderskeiding en subonderskeidings in die WAT het.

“Die een wat dalk die relevantste is hier, is betekenisonderskeiding 5b: ‘Enigeen van die twee gedeeltes aan weerskante van die middel van iets of aan weerskante van ‘n bestaande of ‘n denkbeeldige skeidingslyn’. Maar dan kom die metaforiese uitbreidings soos by 5c: ‘Enigeen van die partye in ‘n verhouding, transaksie, ooreenkoms, geskil, stryd, debat, mededingende spel, wedstryd, ens.’ en 5d: ‘Enigeen van twee of meer van mekaar verskillende sienswyses of beskouings van ‘n saak’ natuurlik ook aan bod,” deel hy.

Hoe werk dit

Louw noem dat iemand ‘n woord teen R100 per woord kan borg, of ‘n woord teen R5 000 elk kan koop. “Dan behoort daardie woord net aan hulle. Hulle ontvang ’n sertifikaat met hulle naam en woord. Hulle kan ook R25 000 wen in ’n prystrekking geborg deur Sanlam. Hulle kry ook gratis toegang tot die aanlyn WAT vir ses maande as hulle ’n woord borg of vir vyf jaar as hulle ’n woord koop.”

Op antwoord van ander interessante woorde wat al voorheen geborg is, noem Louw: “Omdat die WAT ‘n omvattende woordeboek is, sluit dit ook vloektaal in en kry ons soms nogal interessante versoeke. Maar die mees opspraakwekkende een was toe die musiekgroep Die Antwoord ‘n paar jaar gelede die p-woord versoek het,” sluit hy af.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button