Wes-Kaapse pa verdrink jaar na seun se ongeluk

Lazanne Thiart sê dat sy vir haar man ‘n branderplank gegee het en toe agter haar seun aan is, wie se kop onder die water verdwyn het.

’n 50-jarige man het Sondag in die see by Sowesia in Grootbrakrivier tydens ‘n gesinsuitstappie verdrink. Philip Thiart en sy gesin was by die strand om sy seun Gerhard (18) se herstel te vier na ’n motorfietsongeluk op 12 Februarie 2022, waarin hy ernstige breinbeserings opgedoen het.

Die Thiart-gesin woon in Heroldsbaai en Phillip het in Heidelberg gewerk en naweke huis toe gekom. 

Sy vrou Lazanne (46) vertel dat die gesin baie lief is om in die see te swem. Thiart wou graag die dag saam met sy seuns deurbring. Hulle het aanvanklik heerlik in die see geswem, maar die strome was baie sterk. 

Die Thiart-egpaar het saam die see ingegaan en hulle seun Gerhard, het kort daarna by hulle verbygekom. Hulle het na ‘n ruk gesien hy is in die moeilikheid en Thiart het nader geswem om hom te help. 

Sy vrou vertel dat sy opgemerk het dat haar man self sukkel om te swem in die sterk stroom. Sy het vir hom ’n branderplank gegee en aan sy arm vasgemaak. Lazanne is toe agter haar seun aan om hom te help, want sy kop het intussen onder die water verdwyn. 

Haar man het van die bord geval en toe sy terugswem na hom, het sy gesien sy oë is groot met ‘n geelerige kleur. Hy het vir haar gesê om uit te gaan. 

Hengelaars wat daar naby was, het intussen nader gehardloop en gehelp om hulle uit die see te trek. Lazanne het die nooddienste ontbied, maar ondanks kardiopulmonêre resussitasie van meer as ‘n uur, is Thiart op die toneel dood verklaar.

‘n Nadoodse ondersoek word gedoen om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Lazanne sê almal van hulle is erg geskok. 

“Ons moet nou leer om aan te gaan sonder hom.” 

Thiart laat sy vrou, Lazanne, sy dogter Tiani (22), en seuns Gerhard en Sion (9) agter. Hy word ook oorleef deur sy ma Annie en broer Frederik Thiart. 

Die begrafnisdiens sal in Heidelberg gehou word. 

Read original story on www.mosselbayadvertiser.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button