Willem Kruger: Man van Springs glo agter dreigboodskap

'n Facebook-plasing waarin Janneman Uys met arrestasie gedreig word, asook 'n ander skermgreep, doen tans die ronde.

Boodskappe wat wyd en syd op sosiale media rondgestuur word rakende die Willem Kruger-saak het nog vreemder geword.

Etlike ure nadat ‘n artikel geplaas is oor ‘n skermskoot van ‘n Facebook-plasing waarin Janneman Uys aangesê is om ‘n man, wat homself voordoen as ‘n polisielid, te kontak, het daar nòg ‘n vreemder plasing die lig gesien.

Aanvanklike plasing

Die eerste skermgreep is aan Middelburg Observer gestuur en lui: “Hi Janneman, ek het vir jou k..k nuus seun. Ek stel voor jy en jou pa kom sien my voor 10 Maart. Daarna is jou warrant uit vir arrestasie, dan kan ek jou nie help nie. WhatsApp: 076 737 6614.”

DIe aanvanklike skermskoot.

Die boodskap is glo van ‘n ene James Smith gestuur en daar is aanvanklik geglo dat hierdie Smith dieselfde man is wat bekend is in die omgewing om sy slagoffers te kontak en te sê dat hy ‘n verkragtingdossier kan laat ‘verdwyn’, mits hulle hom betaal.

Hierdie man is baie oorredend en boesem vrees in by slagoffers, omdat hulle bang is om aangekla te word, al is hulle onskuldig, aangesien hulle reputasies in die slag kan bly.

Nuutste plasing

In die nuutste verwikkeling is daar egter ‘n ander skermstoot wat nou die ronde doen. In hierdie skermskoot noem ‘n ‘James Keegan Smith’: “Goeie dag almal. Ek is James Smith se seun. Die man is geen polisie. Nog minder ‘n man. Moenie glo wat hy stuur nie. Dankie almal.”

Die vreemde verwikkeling is deur privaat ondersoeker Anthony Boucher van SA Investigations & Security ondersoek en hy het die joernalis laat weet dat hy na aanleiding van die telefoonnommer wat ‘James Smith’ geplaas het, hom reeds opgespoor het.

DIe nuutste skermskoot wat die ronde doen.

Boucher noem hy het reeds James se volle besonderhede en gemeld dat die persoon van Springs afkomstig is. Meer inligting kan nie op die stadium bekendgemaak word nie, aangesien die inligting aan die owerhede oorgegee gaan word.

Geen persoon is by magte om hom voor te doen as ‘n polisieman nie en kan aangekla word.

  • Boucher noem dat dit beslis nie dieselfde persoon is wat hom die laaste paar jaar as John Smith voorgedoen het nie.
  • Boucher sê hy ondersoek al ‘n paar soortgelyke sake waar John Smith betrokke is – plaaslik en in ander dorpe.
  • Die joernalis weet van ten minste een slagoffer van Middelburg wat ‘n paar duisend rand opgedok het om net die ‘kaptein John Smith’ van sy rug af te kry.
  • Gisteraand het ‘n ma van Rustenburg af bekommerd gebel en gesê dat die einste ‘kaptein John Smith’ haar 15-jarige seun begin lastig val het rakende ‘n kamtige verkragtingsaak.
  • Tydens ‘n vorige navraag by Mpumalanga se polisiewoordvoerder,  Selvy Mohlala, het hy na aanleiding van die dreigement teenoor Uys gesê dat daar nie op hierdie stadium enige lasbriewe uit is vir arrestasies in die Willem Kruger-saak nie.

‘Sensasiesoeker’

Uys, wat by die rampartytjie was waar Kruger laas lewendig gesien is, is genader vir kommentaar en het die man as ‘n ‘sensasiesoeker’ uitgemaak.

  • Kruger was aanvanklik as vermis aangemeld nadat hy glo van Henbase Lodge in Morgenzon na Groblersdal op pad was.
  • Sy bakkie en lyk is later in die Vaalrivier gevind.

Uys sê hy ken glad nie die persoon nie en het dié antwoord aan die koerant gestuur: “Dit is maar een van daardie sensasiesoekers. ’n Mens moenie eers vir sulke mense lugtyd gee nie. Ek het nie eers die Facebook-plasing gelees nie, maar ek sien sy kommentaar is klaar weer verwyder. Hy is ’n suurstofdief. Baie dankie.”

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button