Boodskappe wat op sosiale media rondgestuur word, is besig om nou baie vreemd te raak.
Net etlike ure nadat ‘n artikel geplaas is oor ‘n skermskoot van ‘n Facebookplasing waarin Janneman Uys aangesê is om ‘n kamtige polisieman te bel, het daar ‘n nóg vreemder skermskoot die rondte gedoen.
Die jongste skermskoot wat geneem is van die plasing lui: “Goeie dag almal. Ek is James Smith se seun. Die man is geen polisie. Nog minder ‘n man. Moenie glo wat hy stuur nie. Dankie almal.”
- Privaat ondersoeker, Anthony Boucher (SA Investigations & Security) het die joernalis laat weet dat hy na aanleiding van die telefoonnommer wat “James Smith” geplaas het, hom reeds nagespoor het.
Hy het reeds sy volle besonderhede en gemeld dat die persoon van Springs afkomstig is. Dit kan nie nou bekend gemaak word nie, aangesien die inligting aan die owerhede oorgegee gaan word.
Geen persoon is by magte om hom voor te doen as ‘n polisieman nie en kan hy aangekla word.
- Mnr. Boucher het verder genoem dat dit ook beslis nie dieselfde persoon is wat hom die laaste paar jaar as John Smith voorgedoen het nie.
Mnr. Boucher sê hy ondersoek al ‘n paar soortgelyke sake waar John Smith betrokke is, plaaslik en in ander dorpe.
“John Smith” kontak sy slagoffers en sê vir hulle dat hy ‘n verkragtingdossier kan laat ‘verdwyn”, mits hulle hom betaal.
Hy is baie oorredend en boesem vrees in by slagoffers, omdat hulle bang is om aangekla te word, al is hulle onskuldig, aangesien hul reputasies in die slag kan bly.
Tydens baie van die oproepe wat gemaak word, klink dit ook asof hy in ‘n polisiestasie staan, aangesien polisieradio’s in die agtergrond gehoor kan word.
Dit is egter deel van sy bangmaakstrategie. Die vermoede bestaan dat dit ‘n opname is wat gespeel word.
- Die joernalis weet van ten minste een slagoffer van Middelburg wat ‘n paar duisend rand opgedok het om net die “kaptein John Smith” van sy rug af te kry.
- Gisteraand het ‘n ma van Rustenburg af bekommerd gebel en gesê dat die einste “kaptein John Smith” haar 15-jarige seun begin lastig val het rakende ‘n kamtige verkragtingsaak.
- Tydens ‘n vorige navraag by brig. Selvy Mohlala (Provinsiale woordvoerder van die polisie) het hy dit duidelik gestel dat geen polisieman mag geld vra in enige ondersoek nie. Dit is dus beslis ‘n bedrogspul.
- Brig. Mohlala het na aanleiding van die dreigement teenoor Janneman, gesê dat daar nie op hierdie stadium enige lasbriewe uit is vir arrestasies in die Willem Kruger saak nie.
