Willem Kruger: Ondersoeker hou voet by stuk daar was geen gemene spel nie
Na onlangse skokonthullings is daar talle opinies rondom die dood van Willem Kruger wat laas by 'n rampartytjie lewendig gesien is.
Die polisie vra dat bewerings, bespiegelinge en aannames wat gemaak word in die ondersoek oor Willem Kruger se dood, stopgesit moet word.
“Al die bewerings wat gemaak word, dra by tot die trauma van Kruger se familie,” vertel Mpumalanga polisiewoordvoerder Brigadier Selvy Mohlala.
Hy het dit ook duidelik gestel dat berigte wat in die Sondagkoerant, Rapport, verskyn het, nie deur die polisie aan hulle gegee is nie.
“Ons weet nie wie vir hulle die inligting deurgee nie. Ons vermoed dit is ’n privaat ondersoeker.”
‘Gekonfiskeerde’ voertuig
’n Anonieme persoon het hierdie week vir Middelburg Observer gebel en gevra: “[Het] julle al ooit die moontlikheid ondersoek of Janneman se voertuig nie dalk die skade gehad het voor hy na die rampartytjie toe is nie? Weet julle dat daar kwotasies gekry is vir die regmaak van die voertuig vóór die rampartytjie?”
Daar is verneem dat die voertuig ’n bees gestamp het en dat Uys voor die partytjie reeds ’n foto van die skade aan sy versekering gestuur het.
Daar is weer aan Mohlala gevra oor die bewerings dat daar beslag gelê is op Uys se voertuig. Hy wou nie daaroor kommentaar lewer nie, maar het bevestig wat hy verlede week gesê het: “Ek sê weer, daar is nié beslag gelê op ’n ander voertuig nie. Al voertuig wat deel was van die ondersoek, is dié van die oorledene.”
Daar is weer navraag gedoen by Uys oor die anonieme inligting, maar hy het nie daarop gereageer nie.
Hy het verlede week per WhatsApp gesê dat hy ‘dalk later bereid sal wees om te praat, maar nie nou die polisie se ondersoek wil belemmer of beïnvloed nie’.

Verdere bewerings
Daar is bewerings gemaak dat die toneel ‘gekontamineer is’, en dat Willem se bakkie uitgesleep en sy oorskot verwyder is voor die ondersoekspan daar was.
Volgens inligting destyds, was dit duidelik dat daar wel polisielede op die toneel was toe die bakkie uitgehaal is.
Mohlala is ook ontsteld oor ’n video wat op Facebook versprei is, waar Willem se bakkie uitgesleep word nadat dit gevind is.
Hy stel dit duidelik dat daar tans nog nie ’n geregtelike doodsondersoek is nie, aangesien hulle wag vir die lykskouingsverslag.
“Ons kan nie nou enige uitsprake maak, voordat ons nie die verslag ontvang het nie.”
Hy het weereens gevra dat mense hulle moet weerhou daaraan om uitlatings sonder feite te maak.
• Daar is verder ook by Sakkie Lourens van Bosveld Misdaad Ondersoeke, wat destyds die ondersoek hanteer het tydens Willem se verdwyning, gedoen oor die aannames wat gemaak word. Hy het gemeld dat hy net betrokke was by die ondersoek tot Willem gevind is.
“Ek bly by my standpunt dat daar geen gemene spel was nie, tot ek verkeerd bewys kan word met feite, en nie bewerings nie.”
Read original story on www.citizen.co.za