Willem Kruger: Ooggetuie vertel hoe bakkie gekry is

'n Man van Ermelo (78) het besluit 'om almal reg te help' oor die dag toe Kruger se liggaam in die Vaalrivier gevind is.

’n Bejaarde ooggetuie het na drie maande besluit om te vertel wat hy gesien het die dag toe Willem Kruger se bakkie uit die Vaalrivier, langs die Henbase Lodge, gesleep is.

Chris van Zyl (’n inwoner van Ermelo) was verbaas toe hy sekere besondere in die media lees oor dié dag se gebeure.

“Ek het 5m vanaf die plek waar die bakkie gekry is gestaan en alles gesien en ook gehoor wat gesê is.”

Die 78-jarige Van Zyl het vroeg die oggend besluit om na Henbase Lodge te ry.

“Ek het ook ’n seun verloor en weet hoe Tian Kruger [Willem se pa], sy vrou en sy susters voel. Ek het daardie oggend besluit om ook te gaan kyk of ek kan help.”

Van Zyl het aanvanklik verdwaal, maar uiteindelik die plek gekry en sy bakkie sommer buite die lodge parkeer en ‘n entjie tot by die rivier gestap.

“Op daardie tydstip was die sekuriteitswag nie by die hek nie en dit is hoekom ek sommer net kon inloop.”

Van Zyl het omstreeks 09:00 daar aangekom en was verbaas omdat daar so min mense was, aangesien daar so baie vrywilligers was wat aangebied het om te help soek.

Hy verneem dat daar die Saterdag voor sy aankoms ’n troue was en die meeste vrywilligers nie op die terrein was nie.

Jong mans en reddingspan

Van Zyl het opgemerk dat die reddingspan besig was om aan te trek, sowel as tussen 10 en 12 jong mans wat eenkant gestaan het.

“Die jong mans het aan die linkerkant van die rivier gestaan.”

Van Zyl noem hy het langs een van die seuns gestaan en gesels. “Hy het vir my gesê hulle is al van universiteit af vriende van Willem.”

Die bejaarde het ’n entjie opgeloop langs die rivier tot by ’n pompstasie en ’n heining en weer afgestap tot by die mans, waar hy met die groot jongman begin gesels het.

“Ek het nog vir hom gevra ‘ek wonder of die reddingspan per uur betaal word?’, want hulle was besig om op hul tyd alles uit hul voertuie te haal en hul rubberbote op te blaas.”

Hy en die jongman was nog aan die gesels toe hy ’n groot blou motorboot in die rivier sien.

“Dit was ’n groot boot vir die area, aangesien die rivier al baie afgeloop het.”

Hy het gesien dat daar ’n man voor op die neus van die boot sit en met ’n groot stok, ‘ek skat die stok 50mm in deursnee en 3m in lengte, waarmee hy in die water gevoel het’.

Soeke na Willem en sy bakkie

Van Zyl het gehoor hoe hy vir die persoon beduie en sê: “Kom vorentoe, kom vorentoe,” terwyl hy met die stok in die water druk.

Die man het weer gedruk en gesê dat hy ‘die enjinkap van die bakkie raagedruk het’. Hy beweer die kap van die motor was half onder die takke van ‘n wilgerboom.

“Ek is seker die merke van die stok sal steeds op die enjinkap van die bakkie wees.”

Wat daarna gebeur het slaan hom steeds dronk.

“Die boot het nog daar rondgery en stil-stil verdwyn. Ek het nie gesien dat hulle iemand bel nie. Die reddingsouens kon hom ook nie sien nie.”

Kort daarna het Van Zyl gesien hoe twee mans van die reddingsgroep met ’n rubberboot aangery kom. “Die een was agter die stuur en die ander een, ’n duiker, het aan die kant van die rubberboot gehang.”

Hy het in dié tyd ook opgemerk dat daar toue oor die rivier gespan word, ‘maar dit was buite die grens van die bakkie’. Die persoon wat aan die rubberboot gehang het, het ook met ’n stok in die water rondgevoel.

“Die groot boerseun langs my het vir hulle gesê hulle moet onder die takke van die boom kyk, want die ander ouens het iets onder die boom gekry.”

Kort daarna het Van Zyl gesien die persoon wat aan die kant van die rubberboot gehang het, staan op iets.

“Ek kon nie sien waarop hy staan nie, want die water was troebel, maar hy was net tot by sy knieë in die water met dit waarop hy gestaan het.”

Hy het besef dit is die bakkie wat gevind is en noem dat kettingsae gebruik is om die takke weg te sny om behoorlik by die bakkie uit te kom.

Hierna het dinge baie vinnig gebeur, want ’n man in gewone klere (Van Zyl neem aan dit was ’n polisieman) het glo begin skree: “Waar is die barrier tape?…Staan terug! staan terug!” terwyl hy vir almal, Van Zyl inkluis, aggressief beduie het om ten minste 40m terug te staan.

Vanaf die plek waar hy gestaan het, het hy ook gesien hoe twee reddingsvoertuie teen die skuinste gaan staan.

“Hulle het wenaste voor aan hulle voertuie gehad en die bakkie is met sy bak eerste, agteruit uit die water begin trek. Toe die traliewerk en agterklep se ligte begin uitkom, was my hart baie seer en het ek besluit ek wil nie die toneel sien nie. Toe loop ek teen die skuinste op terug na my bakkie toe.”

Gerugte is verkeerd

Hy het in die media gelees dat die bakkie verder met ‘n trekker uitgetrek is. “Ek het die trekker daar sien staan, maar ek was nie daar toe hy hom uitgetrek het nie. Die reddingsvoertuie het seker maar teen die skuinste gesukkel en is die trekker gebruik om hom verder uit te haal.”

• As hy terugdink aan wat alles in die media gesê is, moet hy ‘almal net reghelp’, sê Van Zyl.

“Die polisieduikers het nie geduik om hom uit te haal nie. Die outjie het net aan die kant van die boot gehang. En die fris boerseun by my het vir hulle gesê waar om te kyk by die bome waar die ander boot was en hulle het die bakkie dadelik gekry.”

• Hy herhaal hoe seer sy hart is vir die familie.

“My seun, Jaco, is ses jaar gelede oorlede en my hart gaan uit na hulle. Ek het my kind van kleintyd af alleen grootgemaak en ons was baie na aan mekaar. Ons het selfs langs mekaar gebly.”

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button