Network Sport

Geweld by klubrugby: Wedstryde in SWD weer aan ná staking deur skeidsregters

SWD-rugby hervat dié naweek ná 'n skeidsregtersstaking, maar streng veiligheidsmaatreëls geld na voorvalle van aanranding.

Ligawedstryde in die Suid-Westelike Distrikte (SWD) hervat dié naweek nadat die skeidsregters verlede week hulle fluitjies neergelê het.

Volgens George Herald, was daar verlede naweek geen wedstryde in die SWD Top 8 Superliga, die Uitdaagbekerreeks of die Eersteliga gespeel nie. Slegs die Kusstreek-finaal op Saasveld en die Karoo-streek se halfeindrondte op Oudtshoorn het voortgegaan.

Dié staking van die SWD-skeidsregters volg op uitsprake in twee tugverhore waarin plaaslike klubs beboet is nadat skeidsregters se veiligheid in die gedrang gekom het.

In een voorval is ‘n skeidsregter met ‘n glas gegooi, wat hom in die maag getref het, terwyl ‘n ander skeidsregter ná afloop van ‘n wedstryd deur toeskouers aangerand is.

SWD-president Ben Brinkhuis het gisteroggend bevestig dat daar vandeesweek verskeie vergaderings met skeidsregters en die skeidsregterbestuur plaasgevind het.

“Ons het [Dinsdagaand] ‘n uitvoerende bestuur-vergadering gehad waar die skeidsregters plegtig belowe het dat hulle Saterdag aan diens sal wees. Die kwessie rondom skeidsregters is dus aangespreek.

“Ons het [Woensdagaand] ook ‘n vergadering met die rugbyklubs om veiligheidsmaatreëls te bespreek. As die klubs nie veiligheidsplanne indien nie, sal hulle nie wedstryde kan speel nie. Dit is vir ons van kardinale belang dat die skeidsregters, spelers en toeskouers se veiligheid gewaarborg word,” het hy gesê.

George Herald het Gavin Esau, die voorsitter van die SWD-skeidsregtersvereniging, vir sy kommentaar genader, maar geen is ontvang ten tye van publikasie nie.

Die omstandighede het sedert vandag se uitgawe van George Herald, waarin daar in ‘n artikel aangedui word dat die uitgestelde wedstryde van verlede week die komende naweek gespeel sou word, verander.

Ná die vergadering met die klubs is daar besluit dat die geskeduleerde wedstryde soos aangedui op die goedgekeurde spelbeurtlys sal plaasvind. Dit beteken die wedstryde van 30 Augustus wat nie gespeel was nie, sal nou op 13 September gespeel word.

Die uitstel verlede naweek het ‘n groot invloed op die verloop van die Top 8 Superliga, met die halfeindrondes wat nou na 20 September aanskuif. ‘n Datum vir die eindstryd sal later bepaal word.

Die naweek se program:

  • Barbarians teen Evergreens
  • Crusaders teen Heidelberg
  • Blanco teen Progress
  • Bridgton teen Groot-Brakrivier

‘n Jong skeidsregter, ‘n harde les

George Herald berig die jongste geval waar skeidsregters op plaaslike vlak weer onder die vergrootglas gekom het was verlede week toe Bridgton-rugbyklub in Oudtshoorn met R100 000 beboet is (slegs R40 000 betaalbaar, die res opgeskort) as sanksie deur die SWD-rugbyunie nadat ‘n jong skeidsregter op hul tuisveld by Die Plate aangeval is en ligte harsingskudding opgedoen het.

Beide spanne, Bridgton en Evergreens van George, het die skeidsregter probeer beskerm deur ‘n menslike skild rondom hom te vorm.

Iemand moes gestraf word en omdat Bridgton die gasheer vir hierdie wedstryd was, moes hulle die spit afbyt.

Die straf het verdeelde menings ontlok – vir sommige was dit te lig, vir ander te straf.

George Herald het met Norman Cupido en Winston Jansen van SWD se dissiplinêre komitee gesels.

Kyk hier wat hulle te sê gehad het:

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button