Network Sport

Kyk: Rugbyskeidsregter (19) doen harsingskudding op tydens aanranding in Oudtshoorn

'n Saak word deur die polisie en 'n dissiplinêre komitee ondersoek nadat 'n fluitjieblaser, spelers en toeskouers aangerand is.

Ben Brinkhuis, die president van SWD-rugby, het gisteroggend die unie se diepe teleurstelling uitgespreek ná die aanranding van ‘n skeidsregter op Die Plate in Bridgton, Oudtshoorn, Saterdagmiddag.

George Herald berig ‘n jong skeidsregter (19) is na afloop van die A-span wedstryd tussen Bridgton en Evergreens deur woedende toeskouers aangerand en het, volgens inligting, ligte harsingskudding opgedoen.

Die twee klubs ding tans mee in die SWD Top 8 Superliga, met Evergreens boaan die punteleer en Bridgton in vierde plek.

Brinkhuis het gesê hy gaan hom in die stadium nie uitlaat oor die voorval nie. “Die saak sal deur die unie se dissiplinêre komitee ondersoek en hanteer word. Ons kan nie geweld op of langs die rugbyveld duld nie. Die veiligheid van spelers, skeidsregters en amptenare bly ’n prioriteit. Skeidsregters is ook mense en kan foute maak, maar dit kan nooit geweld regverdig nie,” het hy gesê.

Volgens Brinkhuis wag die unie tans op die amptelike verslae van beide klubs en die betrokke skeidsregters.

Dit behoort teen vandag ingedien te wees en die dissiplinêre komitee sal daarna verdere stappe aankondig.

Polisie-ondersoek

Intussen het die skeidsregter ook Saterdagaand ’n klag van aanranding by die Oudtshoorn-polisie ingedien.

Polisiewoordvoerder Sersant Chris Spies het die klag bevestig. “Volgens inligting wat tot dusver beskikbaar is, het lede van die Oudtshoorn-misdaadvoorkomingseenheid op die voorval gereageer. By hul aankoms is beweer dat ’n groep die slagoffer verbaal en fisies aangerand het,” het Spies gesê.

Geen arrestasies is gemaak nie en die ondersoek duur voort.

Belowende skeidsregter

Oor die skeidsregter se jong ouderdom het Brinkhuis gesê dat hy een van die unie se jong, belowende skeidsregters. “Hy is ‘n skeidsregter wat hoog aangeskryf word, en baie potensiaal toon. Hy voldoen ook aan al die vereistes. Weens beserings kon van ons ander skeidsregters nie blaas nie,” het Brinkhuis bygevoeg.

Chaos op Die Plate

Ná afloop van die intense wedstryd tussen Bridgton en Evergreens het geweld uitgebreek toe die skeidsregter deur ’n groep Bridgton-ondersteuners aangerand is. Evergreens-spelers en -ondersteuners is ook aangeval en hulle voertuie met klippe bestook. Selfs spelers van Bridgton, wat die skeidsregter beskerm het, is bygedam.

Hoewel spelers, bestuurslede en sekuriteit van Bridgton probeer het om die skare te kalmeer, het die situasie vinnig handuit geruk. Verskeie spelers van beide spanne het die skeidsregter beskerm en hom na veiligheid begelei.

Nog polisieversterking is later ontbied waarna Evergreens se spelers en ondersteuners uiteindelik onder polisiebegeleiding die terrein verlaat het.

Die voorval het glo ontstaan ná ’n omstrede besluit in die laaste oomblikke van die wedstryd. ’n Bridgton-speler het die bal by die kantlyn uitgeskop nadat hy glo ingelig is dat speeltyd verstreke is.

Die skeidsregter het egter aangedui dat daar nog twee minute oor is en ’n lynstaan aan Evergreens toegeken, waarna hulle in die doodsnikke ’n drie gaan druk het. Kort daarna het die eindfluitjie geblaas met ’n eindtelling van 33-31 in Evergreens se guns.

Kyk die video:

Glasgooiery op Rosemoor

Na aanleiding van die voorval op Bridgton het talle rugbyondersteuners navrae gehad oor die voorval op Rosemoor op 9 Augustus waar ‘n glas in die rigting van die skeidsregter gegooi is.

Die skeidsregter, na bewering dieselfde skeidsregter wat vir Evergreens en Bridgton geblaas het, het die wedstryd tussen Progress en Groot-Brakrivier 10 minute voor die tyd gestop.

Daar word beweer die glas is deur ‘n toeskouer van Groot-Brakrivier gegooi nadat ondersteuners van die klubs ontevrede was met die skeidsregter se hantering van die wedstryd en sekere beslissings wat gemaak is.

Brinkhuis sê die saak rakende die glasgooiery kon nie verlede week voor die dissiplinêre komitee dien nie, maar sal more voortgaan. Die chaos wat Saterdag in Bridgton afgespeel het sal na verwagting Donderdag voor die dissiplinêre komitee dien.

Geen wedstryde volgende naweek

Alle klubs in die streek het volgende naweek ’n loslooitjie voordat die kompetisie weer hervat. Klubs het nog twee wedstryde oor om te speel.

Die semi-finale in die Top 8 Superliga vind 13 September plaas en die finale op 19 September op Outeniquapark.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button