Middelburg-fietsryer se toestand verbeter ná ernstige val
'n Allergie vir morfien, waarvan Maggie Smit nie bewus was nie, beteken dat sy eers môre teater toe sal gaan ná sy geval het tydens RideJoburg.
‘n Fietsryer van Middelburg wat haarself bewusteloos geval het tydens Sondag se RideJoburg fietswedren deur die strate van Johannesburg, Maggie Smit (42), gaan eers more teater toe.
Volgens Middelburg Observer word Maggie steeds in Netcare Garden City in Johannesburg behandel.
Sy het skaars 5km na die wegspring, by die FNB Stadion, oor ’n groep fietsryers geval, wat vermoedelik neergeslaan het nadat hulle handvatsels aanmekaar geraak het.
Haar neus is gebreek, haar bolip is beseer, sy het krake aan haar pelvis en sy het ’n besering aan haar kop.
Ná die val was sy vir ’n tyd lank bewusteloos en het eers haar bewussyn in ’n ambulans herwin.
Volgens haar man, Johnny, wat haar by die hospitaal bystaan, was hulle nie bewus dat Maggie allergies is vir morfien nie.
“Sy gaan nou eers more teater toe. Haar medikasie is verander en sy was laasnag beter as [gister]oggend. Die pyn is nou onder beheer.”
Johnny en sy vrou het albei aan die RideJoburg fietswedren oor 97km deelgeneem.
“Ons waardeer almal se boodskappe,” het hy vanoggend laat weet.
- Ander fietsryers sê Maggie was nie die enigste wat Sondag geval het nie. Daar was glo verskeie ander voorvalle.
Navrae is aan die organiseerders van die wedren gestuur, maar daar is steeds geen terugvoer ontvang nie.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.



