Network Sport

Varsitybeker: NWU pak onoorwonne Tukkies in Potchefstroom

Dis ’n stryd om die bo-punt van die punteleer: Kan die NWU Eagles die onoorwonne Tukkies in ’n uitverkoopte Fanie du Toit-stadion pootjie?

Die eerste en tweede spanne op die Varsitybeker-punteleer pak mekaar Maandagaand in Potchefstroom met alles om voor te speel, berig Potchefstroom Herald.

Die NWU Eagles weet dat die tuiskare by die Fanie du Toit-sportgronde vir hulle daardie ekstra hupstoot sal gee wanneer hulle Tukkies more in die Varsitybeker takel. Die NWU-kaptein, Stephan Krugel, het die belangrikheid van tuiswedstryde beklemtoon en verwys na hoe spanne gewoonlik op hul eie werf floreer.

“Tuiswedstryde beteken baie vir ons. Ons het ongelooflike ondersteuners en die kaartjies vir die wedstryd teen Tukkies was weer in minder as ’n minuut uitverkoop,” noem hy.

Volgens Krugel het die span tydens sy afwesigheid teen die Shimlas (weens ’n besering) bewys dat daar diepte in die groep is. “Elke speler bring sy uniekheid om ons as ’n eenheid vorentoe te vat. Dit is nie net die spelers op die veld wat die verskil maak nie, maar ook die spelers teen wie ons oefen om voor te berei. Almal maak ’n impak.”

Die NWU-hoofafrigter, Burger van der Westhuizen, stem saam dat die spandiepte ’n goeie teken is. “Ons weet Tukkies is ’n baie goeie span; hulle is fisies sterk en speel goeie rugby. Dit gaan ’n groot stryd wees. Die belangrikste vir ons is om voort te bou op die wen teen Shimlas en met elke wedstryd net beter te word,” verduidelik Van der Westhuizen.

Uitblinkers vir die NWU in hul wedstryd teen Shimlas was Ruan van Willing op losskakel, sowel as die ratse Zack Serfontein op skrumskakel, wat twee drieë gedruk het. Ricardo Fourie het ook weer sy stempel afgedruk met ’n Speler van die Wedstryd-vertoning.

Aan Tuks se kant sal die losskakel, Divan du Toit, fyn dopgehou moet word. Die NWU-manne ken hom goed aangesien hy verlede jaar nog vir die Eagles uitgedraf het. Ander Tuks-spelers wat gevaar inhou, is die senterpaar Christiaan Vlok en Kobus Janse van Rensburg. Vlok het ook voorheen vir die NWU gespeel. Andile Myeni op regtervleuel is nog ’n spoedvraat waarvoor die tuisspan moet ligloop.

Die Eagles is tans tweede op die punteleer met 17 punte ná vier wedstryde, nadat hulle die afgelope Maandag vir Shimlas met 43-31 in Bloemfontein geklop het. Tukkies neem tans die leisels en beklee die eerste plek met 20 punte.

Die wedstryd skop om 19:00 af.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button