Die NWU Eagles weet dat die tuiskare by die Fanie du Toit Sportgronde vir hulle daardie ekstra hupstoot sal gee wanneer hulle Tukkies hierdie Maandag, 16 Maart in die Varsitybeker takel.
NWU kaptein, Stephan Krugel het die belangrikheid van tuiswedstryde beklemtoon en gewys na hoe spanne goed doen op hul tuisveld.
“Tuiswedstryde beteken baie vir ons. Ons het ongelooflike ondersteuners en die kaartjie vir die wedstryd teen Tukkies was weer onder ‘n minuut uitverkoop,” noem hy.
Volgens hom het die span, in sy afwesigheid teen Shimlas weens ‘n besering, bewys dat daar diepte in die groep is.
“Elke speler bring sy uniekheid om ons as ‘n eenheid vorentoe te vat. Dit is nie net die spelers op die veld wat die verskil maak nie, maar ook spelers waarteen ons oefen byvoorbeeld om voor te berei. Almal maak ‘n impak,” verduidelik hy.

NWU hoofafrigter, Burger van der Westhuizen noem ook dat die diepte van sy span bewys is, wat goeie tekens vir hom is.
“Ons is weet Tukkies is ‘n baie goeie span, hul is baie fisies en sterk. Hulle speel goeie rugby. Dit gaan ‘n groot stryd wees. Die belangrikste vir ons is om voort te bou op die wen teen Shimlas en elke wedstryd net beter te word,” verduidelik Van der Westhuizen.
UItblinkers vir die NWU in hul wedstryd teen Shimlas was Ruan van Willing op losskakel, sowel as die ratse Zack Serfontein wat op skrumskakel begin het. Serfontein het twee drieë gedruk. Ricardo Fourie het weer eens sy stempel afgedruk met ‘n speler van die wedstryd-vertoning.

Aan Tuks se kant sal die losskakel, Divan du Toit, dopgehou moet word. Die NWU-manne sal hom goed ken aangesien hy laas jaar vir die Eagles uitgedraf het. Ander Tuks-spelers wat geraas kan maak, is die senterpaar, Christiaan Vlok en Kobus Janse van Rensburg. Vlok het ook voorheen vir NWU uitgedraf. Andile Myeni is ook ‘n spoedvraat op regtervleuel.


Catherine Kotze/Asem Engage.
Die Eagles is tans tweede op die punteleer met 17 punte ná vier wedstryde, nadat hulle die afgelope Maandag vir Shimlas met 43-31 in Bloemfontein geklop het. Tukkies is die span wat vanjaar die leisels neem en sit op 20 punte in die eerste plek.
Die wedstryd tussen die NWU en Tukkies skop om 19:00 af.



