Network Sport

Bosveld tot Britse toetsrugby: Benhard groet die doemprofete

Tien jaar ná 'n rugbyspeler van Limpopo se geskiedkundige Varsitybeker-drie, staan dié nederige senter gereed om sy grootste kritici verkeerd te bewys.

Die voormalige Noordwes-Universiteit (NWU)-losskakel Benhard Janse van Rensburg kan binnekort die eerste rugbyspeler van Thabazimbi en Hoërskool Frikkie Meyer word om vir Engeland uit te draf, berig Potchefstroom Herald.

Janse van Rensburg is in Steve Borthwick se Engelse groep vir die toetsseisoen teen Fidji ingesluit.

Dit is langer as ‘n dekade gelede sedert dié boerseun die rekordboeke gehaal toe hy die Varsitybeker se eerste negepunt-drie gedruk het.

En nou staan hy op die drumpel van ’n nuwe hoofstuk in sy lewensgeskiedenis: Om die Engelse se bekende wit trui met die rooi roos oor sy kop te trek.  

Janse van Rensburg se suksesverhaal is ’n bewys dat drome wel waar kan word.

Hy was nog nooit een van dáárdie spelers wat uit ’n tradisionele rugbyskatkis gekom het nie, maar sy eie pad oopgeveg het. Daar word ook gedebatteer oor sy geskiktheid om vir Engeland uit te draf, aangesien hy reeds Suid-Afrika op o.20-vlak verteenwoordig het.

Hy kan die doemprofete egter net op een plek stilmaak: op die veld.

Die Bristol Bears-senter is bekend vir sy leergierige ingesteldheid en nederigheid. Van die veld af is hy net so gewild danksy sy kenmerkende ‘mullet’-haarstyl, ’n gier wat selfs nou deur sy jonger aanhangers gevolg word.

Die reën en koue van Engeland verskil ook hemelsbreed van die warm Bosveld waar hy grootgeword het, maar aanpassing is sy tweede natuur.

“Dit is ’n ongelooflike geleentheid om internasionale rugby te kan speel. Toe Steve (Borthwick) my bel, was ek ongelooflik bly. Maak nie saak vir wie ek speel nie, my doelwit is altyd om my beste te gee,” sê hy.

Benhard saam met sy broer HJ, pa, Gerhard en ma, Zanie by die Springbokke se wedstryd teen Engeland Saterdag in Johannesburg. Foto: SupaRugby/Facebook

Sy ma, Zanie, beskryf hom as ’n nederige, Godvresende boerseun.

“Hy het ’n liefde vir sport en kompetisie. Mense dink dalk hy dink baie van homself, maar hy hou eintlik net daarvan om te skerts. Omdat hy op ’n plaas grootgeword het, verstaan hy hoe belangrik dit is om geduldig te wees. Die vrug van harde werk vat tyd.

“Ons gesin is almal baie opgewonde om hom moontlik sy debuut (teen Fidji) te kan sien. Dit is ‘n eens in ‘n leeftyd ervaring,” vertel sy trots.

Niks op ’n skinkbord gekry

Hy het niks op ’n skinkbord ontvang nie. Hy het eers in in Graad 8 rugby begin speel en is nie die produk van ’n tradisionele rugbyskool nie. Sy pad na die hoogste vlak is tree vir tree gebou op harde werk en genade.

Dié deursettingsvermoë het in 2016 vrugte afgewerp toe hy die NWU help lei het na hul geskiedkundige eerste Varsitybeker-titel. Dit het gevolg ná ’n uitmergelende eindstryd van 89 minute waarin hulle Stellenbosh se Maties met 7-6 getroef het.

“Ek was geseënd om op die regte plek op die regte tyd te wees. Ek was omring deur ervare spelers soos Johan Deysel (Namibiese Wêreldbeker-senter) en Rhyno Smith (Benetton-agterspeler). Vir ’n jong speler maak die Varsitybeker deure oop.”

Hy het sonder ’n rugbybeurs by die NWU opgedaag en teen alle verwagtinge in ’n plek in Patria Manskoshuis losgeslaan. Hy het uiteindelik ook die oog van die Luiperds se o.19-afrigter, Melusi Mthethwa, gevang. Dit het die weg gebaan vir Jonathan Mokuena om hom vir die Varsitybeker-span nader te hark.

“Hy was ’n yster. Niemand hoef ooit vir Benhard te gesê het om harder te werk nie; hy het altyd alles gegee,” onthou Mokuena.

Dié NWU-band loop steeds sterk in die familie. Sy jonger broer, HJ, draf tans self vir die Universiteit uit en droom daarvan om in sy broer se Varsitybeker-voetspore te volg. Die twee broers is baie na aan mekaar en HJ beskou sy broer se sukses as sy grootste motivering.

Prestasie aan mentors toegeskryf

Benhard skryf baie van sy prestasies toe aan mentors soos Franco Smith, wat hom destyds by die Cheetahs ’n kans gegun het. Dit is hier waar hy in 2019 die Curriebeker omhoog kon hou. Ná sy tyd in Bloemfontein het ‘n skof in Japan gevolg, waarna Corniel van Zyl hom ná die Covid-19 pandemie na die London Irish gelok het.

“Ek het nie twee keer gedink oor die geleentheid om in Engeland te speel nie.”

Hy skerts dat die grootste aanpassing aanvanklik nie die grys Britse weer was nie, maar die Engelse manier van tyd aandui.

“Hul half-eight is nie ons halfagt nie. Ek was aan die begin baie keer hopeloos te vroeg vir oefening.”

By die Bristol Bears ontwikkel hy sy spel weekliks. Hy het die geleentheid by dié klub gekry nadat London Irish in 2023 onder administrasie geplaas is.

“Die Premiership dwing jou om elke week te verbeter. Ek staan elke oggend met dankbaarheid op. Ek weet hoe bevoorreg ek is, en ek sal nooit hierdie geleenthede as vanselfsprekend aanvaar nie.”

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button