Tien jaar gelede het ’n jong boerseun van Thabazimbi in die nommer 10-trui van die NWU die heel eerste negepunt-drie in rugbygeskiedenis tydens die Varsitybeker gedruk.
’n Dekade later is Benhard Janse van Rensburg weer in die kollig – dié keer met die kans om sy toetsdebuut vir Engeland teen Fidji te maak nadat hy in Steve Borthwick se groep vir die toetsseisoen ingesluit is. Indien hy die bekende wit trui met die rooi roos aantrek, sal hy die eerste rugbyspeler van Thabazimbi en Hoërskool Frikkie Meyer wees om vir Engeland uit te draf.
Benhard se verhaal bewys dat drome waar kan word. Hy is die uitsondering op die reël – ’n speler wat nie uit ’n tradisionele rugbyskatkis gekom het nie, maar sy eie pad oopgeveg het. Verder is daar ook debat of hy vir Engeland moet speel aangesien hy alreeds op o20 vlak vir SA uitgedraf het. Daar is net een plek waar Benhard die doemprofete kan stilmaak en dit is op die veld.

Die Bristol Bears-senter is bekend vir sy leerbare ingesteldheid en nederigheid. Van die veld af is hy net so gewild vir sy kenmerkende mullet, wat jong ondersteuners selfs probeer namaak.
Die nat en koue Engelse klimaat verskil hemelsbreed van die warm Bosveld waar hy grootgeword het, maar aanpassing het nog altyd deel van sy reis gevorm.
“Dit is ’n ongelooflike geleentheid om internasionale rugby te kan speel. Toe Steve Borthwick my bel, was ek ongelooflik bly. Maak nie saak vir wie ek speel nie, my doelwit is altyd om my beste te gee,” sê Benhard.

Sy ma, Zanie, beskryf hom as ’n nederige, Godvresende boerseun.
“Hy het ’n liefde vir sport en kompetisie. Mense dink dalk hy dink baie van homself, maar hy hou eintlik net daarvan om te skerts. Omdat hy op ’n plaas grootgeword het, weet hy dat geduld belangrik is. Die vrug van harde werk vat tyd,” vertel sy trots.
“Ons gesin is almal baie opgewonde om hom moontlik sy debuut (teen Fidji) te kan sien. Dit is ‘n eens in ‘n leeftyd ervaring.”

Niks is vir hom op ’n skinkbord gegee nie. Hy het eers in graad 8 begin rugby speel en nooit een van die bekende rugbyskole bygewoon nie. Elke tree op sy pad na die hoogste vlak is deur harde werk sowel as guns van God.
Sy deurbraak het in 2016 gekom toe die NWU die Varsitybeker vir die eerste keer gewen het ná die epiese 89-minute-eindstryd teen Maties in Stellenbosch met 7-6.
“Ek was geseënd om op die regte plek op die regte tyd te wees. Ek was omring deur ervare spelers soos Johan Deysel (Namibiese Wêreldbekersenter) en Rhyno Smith (Benetton agterspeler). Vir ’n jong speler maak die Varsitybeker deure oop.”
Hy het sonder ’n rugbybeurs na die NWU gekom, ’n plek in Patria Manskoshuis teen alle verwagtinge gekry en uiteindelik die oog van Luiperds o19 afrigter Melusi Mthethwa gevang voordat Jonathan Mokuena hom na die Varsitybekerspan opgeroep het.
“Hy was ’n yster. Niemand hoef ooit vir Benhard te sê hy moet harder werk nie. Hy het altyd alles gegee,” onthou Mokuena.
Die NWU-band bly sterk. Sy jonger broer, HJ, speel ook vir die NWU en droom daarvan om dieselfde pad as ‘n Varsitybekerspeler te stap. Die twee broers kom goed oor die weg met HJ wat opkyk en sy broer se sukses as motiverend sien.
Benhard skryf ook baie van sy sukses toe aan mentors soos Franco Smith, wat hom by die Cheetahs geleenthede gegee het. Dit is hier waar hy ook in 2019 die Curriebeker kon lig. Ná sy tyd in Bloemfontein het hy in Japan gaan speel voordat Corniel van Zyl hom ná Covid-19 na London Irish gelok het.

Benhard is met Joné Kruger getroud, ‘n oud-leerder van Potchefstroom Gimnasium en voormalige NWU-atleet. Foto: Facebook
“Ek het nie twee keer gedink oor die geleentheid om in Engeland te speel nie.”
Hy lag dat die grootste aanpassing aanvanklik nie die weer was nie, maar die Engelse tydsaanduidings.
“Hul half-eight is nie ons halfagt nie. Ek was baie keer hopeloos te vroeg vir oefening.”
By Bristol Bears ontwikkel sy spel weekliks. Hy het die geleentheid by Bristol gekry nadat London Irish in 2023 onder administrasie geplaas is.
“Die Premiership dwing jou om elke week beter te word. Ek staan elke oggend op met dankbaarheid. Ek weet hoe bevoorreg ek is en sal nooit my geleenthede as vanselfsprekend aanvaar nie.”



