Network Sport

Suid-Afrikaner op pad na Dubai om Anthony Joshua vir Fury-geveg te help

’n Voormalige Suid-Afrikaanse bokskampioen het die geleentheid gekry om een van die wêreld se bekendste swaargewigte in die kryt te ondersteun. 

Die voormalige Suid-Afrikaanse swaargewigbokskampioen Ruann Visser is op pad na Dubai om die Brit Anthony Joshua vir sy geveg teen Tyson Fury te help voorberei, berig Vaalweekblad.

Visser, wat ook ’n oud-Vaaldriehoeker is, het die nuus vroeër vanoggend (7 Oktober) op sy Facebook-blad bekendgemaak.

Visser het al voorheen saam met wêreldklas-swaargewigte gewerk. Hy het onder meer Oleksandr Usyk en Wladimir Klitschko met hul voorbereiding vir gevegte gehelp.

“Ek sal by Anthony Joshua se oefenkamp aansluit om hom te help voorberei vir sy geveg teen Tyson Fury, wat beloof om een van die grootste gevegte in die boksgeskiedenis te wees,” het Visser geskryf.

Ruann Visser en Anthony Joshua by ‘n vorige oefenkamp. Foto: Facebook/Ruan Visser

Joshua en Fury pak mekaar op 11 Desember in die Principality Stadium in Cardiff, Wallis.

Vir Visser is die geleentheid ’n kans om verdere ervaring op die internasionale verhoog op te doen en terselfdertyd sy eie loopbaan vorentoe te neem.

“Dit is ’n groot eer om vertrou te word om deel van hierdie voorbereiding te wees. Ek is gereed om alles wat ek het by hierdie kamp te gee,” het hy gesê.

Visser het ook bekendgemaak dat hy by ’n internasionale bestuurspan aangesluit het terwyl hy groter gevegte en nuwe geleenthede op die wêreldverhoog nastreef.

Hy sal die span volgende week amptelik bekendstel.

Daar wag moontlik ook ’n geveg vir Visser in die Verenigde Koninkryk in Desember ná die oefenkamp, maar hy beklemtoon dat dié geveg nog nie bevestig is nie.

“Niks is nog bevestig nie, maar ek is opgewonde oor wat voorlê en sal die besonderhede deel sodra dit gefinaliseer is,” het Visser gesê.

Die bekende Britse bokspromotor Eddie Hearn het tydens ’n vorige Joshua-oefenkamp belangstelling in Visser getoon.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za

Related Articles

Back to top button