Ermelo se Natasha as SA gewigoptel-kampioen gekroon
Twee oefensessies per week, ure se voorbereiding en ’n afrigter wat in haar glo, het die grondslag vir ‘n Mpumalanga-vrou se gewigoptel sukses gelê.
Natasha Klopper het in Oktober by die Suid-Afrikaanse gewigoptelkampioenskappe bewys dat sy met die land se voorste atlete kan meeding en die druk van ’n nasionale titel kan hanteer.
Volgens Hoëvelder het harde werk, dissipline en deursettingsvermoë vrugte afgewerp toe Klopper van Ermelo as die Suid-Afrikaanse kampioen in die 61 kg-gewigsklas gekroon is.
Klopper het die titel ingepalm met ’n rukslag (snatch) van 63 kg en ’n stoot (clean and jerk) van 78 kg, wat haar ’n gesamentlike totaal van 141 kg besorg het en haar as die land se voorste gewigopteller in haar gewigsklas gevestig het.
Hoewel haar aanvanklike doelwit was om minstens 65 kg in die rukslag-item te lig, het haar afrigter, Neill Pieterse, die nodige aanpassings op die dag gemaak, na gelang van hoe sy gevoel het.

Die oomblik toe sy besef het dat sy die Suid-Afrikaanse titel gewen het, sal haar lank bybly.
“Nadat ek klaar was, het ek en GD Koch [deel van haar oefengroep] agter gaan sit. Toe ek na die skerm kyk, het ek vir hom gesê: ‘Ek het gewen. Ek het regtig gewen.’”
Sy beskryf die gevoel as ’n kombinasie van verligting en opgewondenheid, veral omdat die titel haar harde werk en ure se voorbereiding weerspieël.
Haar gewone oefenprogram behels twee gewigoptelsessies per week, op Woensdae en Sondae. Elke sessie duur ongeveer twee uur. In die week voor ’n groot kompetisie verminder hulle die oefenlading ter voorbereiding.
Sy en haar oefengroep het besluit om saam vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in te skryf en hulself teen die land se beste atlete te meet.
Klopper sê struikelblokke vorm deel van enige sportreis.
“Ek dink almal het maar struikelblokke wat hulle moet oorkom. As jy niks daaraan doen nie, gaan jy nie ver kom nie.”
Sy skryf ’n groot deel van haar sukses toe aan haar afrigter, Neill Pieterse, wat haar en die oefengroep deurentyd ondersteun en voorberei het.
“Neill het ’n baie groot rol gespeel. Hy glo in hard work over talent. Sy oefenprogramme is altyd so uitgewerk om ons in topvorm te hê op die regte tyd.”
Haar man is haar grootste ondersteuner en help haar om kalm te bly, terwyl haar oefengroep ook ’n belangrike rol in haar voorbereiding gespeel het.
Die gesamentlike oefensessies, grappies en pogings om ’n spesifieke gewigsklas te haal, is volgens haar deel van die ervarings wat sy nie maklik sal vergeet nie.
Hoewel daar dae is wanneer sy nie lus is om te oefen nie, bly dissipline ’n belangrike faktor.
“Om op te daag al is jy nie lus vir oefen nie, is wat saak maak, want ons oefen vir die liefde en passie daarvan.”
Die Suid-Afrikaanse titel beteken baie vir haar, veral omdat sy haarself nou as die voorste atleet in haar gewigsklas in die land kan beskou.
“Om te dink daar is topatlete in SA en ek is nommereen in die land in my gewigsklas. Dis een van die beste gevoelens ooit.”
Die les wat sy uit die hele proses neem, is eenvoudig: Harde werk werp vrugte af.
Haar volgende uitdaging wag by Fitchella in Kaapstad, een van Suid-Afrika se bekendste CrossFit-kompetisies.
Haar boodskap aan ander jong vroue en voornemende gewigoptellers is dat dit nooit te laat is om met die sport te begin nie.
“Dis nooit te laat om te begin en ’n doelwit vir jouself te stel nie,” sê Klopper.



