Ware talent van Chris Vorster

Chris Vorster se eenmanstuk, Affairs vir Domkoppe, onthul sy ware talent.

Min mense besef die ware talent van Chris Vorster, oftewel Ryno van Sewende Laan. Dalk omdat die rol min om die lyf het. Sien jy die man egter op die verhoog, skrik jy wakker. Hy kán. Hy kan nie net toneelspeel nie, hy kan skryf ook. Sy huidige eenmanstuk, Affairs vir Domkoppe, wat onlangs by die Centurion teater te sien was en nou by Aardklop opgevoer word, is duidelike bewys daarvan.

Die gehoor het gelê van die lag vir die kwinkslae en skreeusnaakse verduideliking van hoe affairs nie hanteer moet word nie… terwyl Chris vir die nimlike Marius Weyers, Steve, Kurt, Louis van Niekerk en Sandra Prinsloo (onder andere) as spelers in sy rolprent voorstel en met groot welslae namaak. Hy verduidelik dat hy ‘n fliek maak.

En met behulp van niks meer nie as n paar stoele en plakkate, gee hy die storie van die fliek weer. Sien, Marius, wat goeie ondervinding het, stig ‘n ondersteunersgroep om mans te leer hoe om affairs te hanteer. Al die reëls word weergegee… op ‘n manier wat mens aan die een kant laat skater, maar aan die ander kant sny dit tog baie naby aan die been!

 

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button