Rock-groep stel nuwe album vry

One Crown is reeds vanaf 2005 aan die gang en tree nou al vir die afgelope agt jaar saam op.

Die gospel-groep, One Crown, is terug met hul derde album, Kwesbaar, en die kwaliteit van die album, deur LightStain Studios, sowel as die melodie en lirieke gaan hulle aanhangers vir seker in vervoering hê.

Van die eksplosiewe pop snit, Kyk na my, wat nou reeds op radiostasies landswyd gehoor kan word, tot die meer rustige Oor­vloed bestaan hierdie album uit tien snitte wat elkeen briljant is in eie reg en wat die album ‘n meesterstuk maak.

Die groep bestaan uit vier beste vriende wat dieselfde passie deel vir musiek en om ‘n positiewe impak op jong mense se lewens te maak.

Die lede is Hendri Hofmeyr as hoofsanger en op elektriese kitaar, Werner Taljaard op tromme, Ryno Jansen op baskitaar en Lourens de Jongh op elektriese kitaar.

Hulle het in 2010 hul eerste album genaamd Grace uitgegee waarna hulle ‘n platekontrak by Merchant Music geteken het. Hul tweede album, Verander vir ander, het die lig in Oktober 2011 gesien. Hulle het in 2012 die Ghoema sowel as die Huisgenoot Tempo-toekenning verower in die Beste Rockalbum-kategorie vir hierdie album.

“Hierdie is by verre die langste wat ons nog ooit geskryf het aan nuwe liedjies en ook die langste nog wat ons opgeneem het in die ateljee, so daar is baie tyd besteë om hierdie werklik ‘n ongelooflike album te maak. Ons hoop dat ons liedjies harte sal oopmaak vir die waarheid van Jesus. Die album fokus op die feit dat ons ‘n teiken van Sy liefde en ‘n trofee van Sy genade is,” het Hofmeyr gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button