Jakkie en Kurt deel goeie nuus
Drie Pikkewyne-sanger en seerower-sanger deel goeie nuus met aanhangers.

Terwyl die Drie Pikkewyne-sanger Jakkie Louw sy tweede dogtertjie Woensdagoggend in die wêreld verwelkom het, het die seerower-sanger Kurt Darren gehoor hy word een van die dae ook ‘n dogtertjie ryker.
Jakkie het Woensdag trots getwiet: ”Kara Louw is om 07:55 gebore. Sy is baie pragtig en weeg 3,38 kg.”
Hy en sy vrou Anel het ook ‘n drie-jarige dogter, Liké.
”Anel is fine en giggel heeltyd! Dankie, Here, vir nog ’n dogtertjie!” het hy later gesê.
Kurt en sy vrou, Dunay Nortje, het Maandag aangekondig hulle verwag ‘n meisie.
Dunay het Woensdag opgewonde getwiet: “It’s a GIRL!! Sooooo dankbaar vir ’n perfekte prinses!!”
Kurt het dieselfde dag ’n kollage met ‘n foto van hom en Dunay, en ‘n ballerinatutu- en skoentjies getwiet en op Facebook gedeel.
Aanhangers was in ekstase en kon nie wag om hul gelukwense met die egpaar te deel nie.
Karlien Boshoff Bester het sommer dadelik ‘n naam voorgestel en by Kurt se foto geskryf: “Baie geluk. ‘Kurnay’ is haar naam.”
Zelda Naude Kotze het die paartjie ook geluk gewens en geskryf: ”Sy gaan haar pa om (haar) vinger draai… Pa se prinses.”
“Wow!!! Baie geluk, dogtertjies is klein engeltjies, sy gaan so pragtig wees,” het Marie de Beer gesê.
Mitzi Harmse het ook gemeen hulle dogterjie gaan net so pragtig soos haar ‘mamma’ wees.
Die pienkvoet sal haar verskyning in November maak.