Agter die skerms met Tiro
SAMA-bekroonde musiektalent Tiro is 'n opwindende kunstenaar wat al in menigte aanhangers se harte ingekruip het. Ons gesels met dié veelsydige sanger oor sy splinternuwe Afrikaanse album, Pak My In Jou Tas

Wat kan aanhangers van jou heel eerste Afrikaanse album, Pak My In Jou Tas, verwag?
Dit is ‘n lekker-luister album met verskeie oorspronklike liedjies wat jou voete sal laat jeuk, die langpad korter maak en jou ook inspireer.
Waaroor gaan die album se eerste enkelsnit, Gee My Jou Hart?
Natuurlik gaan dit oor die liefde – die hartklop van ons bestaan. As jy aan iemand jou hart gee, gee jy alles!
Gepraat van tasse pak… sonder watter drie items sal jy nooit reis nie?
My selfoon, beursie en tandeborsel.
Jy is Tswana-sprekend maar praat en sing graag in Afrikaans. Wat geniet jy die meeste van die Afrikaanse taal en musiek?
Die Afrikaanse taal val so lekker op die oor en tong. Afrikaanse musiek is enig in sy soort!
Wat wil jy nog graag bereik?
Ek sal graag die volkslied by ‘n Wêreldbeker-rugbywedstryd vir die Bokke wil sing.
Kan jy jouself in een sin opsom?
‘n Passie vir musiek, lief vir die Here en lief vir mense.
Wat is vir jou die lekkerste deel van die musiekbedryf?
Shows! Lewende vertonings bly vir my die lekkerste.
Waarna kan Tiro-aanhangers uitsien?
Daar is heelwat TV-verskynings vir die hele land. Ek sal ook gereeld op sosiale media die inligting oor optredes bekend maak.
Bly op hoogte met Tiro se optredes en toekomsplanne op Facebook en Twitter.
Kyk hier na die musiekvideo van Gee My Jou Hart: