Neil Somers – ‘n stem wat jou asem sal wegslaan
Ses jaar na sy eerste album is Neil Somers terug met ’n splinternuwe een, Hierdie Hande, wat beslis gaan opslae maak in die musiekwêreld. Sy diep stem is die perfekte pasmaat vir elke sielvolle liriek... en die eindresultaat is hoendervleismooi.
Met sy strelende fluweelstem het musikant Neil Somers beslis geen bekendstelling in musiekkringe nodig nie.
Oor die afgelope paar jaar is van sy werk nie net met benoemings vereer nie, maar treffers soos Anderkant Atlantis en Sinnelose Lente is ook vriendelik deur radiostasies en die publiek ontvang.
Sy splinternuwe album, Hierdie Hande, is onlangs uitgereik en spog met dertien oorspronklike snitte wat wissel tussen roerende hartsmusiek en lighartige kuiermusiek.
Eendag op ’n Reëndag, die nuwe enkelsnit wat pas vrygestel is, is ook reeds ’n gunsteling onder luisteraars regoor die land.
Neil beskou dié CD as die hoogtepunt van sy loopbaan en beskryf dit as ’n Afrikaanse kontemporêre folk rock-album, met ’n bietjie pop hier en daar.
“Alles wat voorheen gebeur het, was net om my voor te berei vir die hier en nou. Hierdie is sover die grootste oomblik van my loopbaan en die musiek wat ek vir hierdie album gekies het, is my beste” sê hy.
Kyk hier na die musiekvideo van Eendag op ’n Reëndag: