Rympies vir Kleintjies en kleuters by Alkantrant Bib
Die bekendstelling vind hierdie Saterdag 18 November in Lynnwood plaas.

Rympies vir Kleintjies en kleuters is ’n prettige volkleur-illustrasieboek wat perfek is vir drie- tot vyfjariges.
Die boek, saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotze-Myburg en Gerrie Smit bevat nagenoeg 400 rympies deur 100 skrywers. Dit is so geskryf om kinders te help met hulle alledaagse leefwêreld in ’n heerlike, maklike, sprankelende Afrikaanse skryfwyse.
ALSO READ: Wouwtjies lees 12 523 boeke in 9 weke
Aangesien die bundel sorgvuldig beplan is om aan nasionale opvoedkundige vereistes te voldoen, vorm dit ’n onmisbare hulpmiddel vir opvoeders en versorgers in speelskole, met ’n nuttige gebruiksgids agter ingesluit.
Rympies vir Kleintjies en Kleuters sal egter ook tuis wees in elke huis – om nie te praat van kuiertyd by ouma en oupa nie.
Die boek word op Saterdag 18 November by die Alkantrant Biblioteek op die hoek van Daventrystraat en Lynburnweg in Lynnwood om 09:30 vrygestel.
Daar sal boekverkope wees en versnaperinge sal bedien word.



