Hoërskool Volksrust by Wakkerstroom Musiekfees 2014
Tydens die Wakkerstroom Musiekfees het Tisha Willemse, ‘n leerling van Volksrust Hoërskool, die geleentheid gekry om haar debuut te maak as fluitspeler. Tisha is ‘n baie begaafde leerling van die skool se musieksentrum en ontvang onderrig by mej. Marietjie Steyn. Die gehoor, sowel as die ander kunstenaars wat opgetree het, was baie beïndruk deur Tisha …
Tydens die Wakkerstroom Musiekfees het Tisha Willemse, ‘n leerling van Volksrust Hoërskool, die geleentheid gekry om haar debuut te maak as fluitspeler.
Tisha is ‘n baie begaafde leerling van die skool se musieksentrum en ontvang onderrig by mej. Marietjie Steyn.
Die gehoor, sowel as die ander kunstenaars wat opgetree het, was baie beïndruk deur Tisha se fluitspel. Vir die geleentheid is sy begelei deur Misha Meyer, ‘n jong pianis wat alreeds goed bekend is in musiekkringe.
Leerlinge van Volkies het tydens die Wakkerstroom Musiekfees fluks gehelp waar hulp benodig was. Hierdie leerlinge het gewerk as kelners, bystand verleen met kaartjieverkope en gehelp met die inneem van kaartjies. Tydens die gala-konsert het Lizelma Pretorius, Sunè Reyneke en Edrei du Toit die musikante bygestaan en baie geleer van verhoogbestuur.
Mej. Karin Jacobs, ‘n onderwyseres van Hoërskool Volksrust, en haar span het gesorg vir pragtige blomme in die onderskeie lokale wat gebruik is oor die naweek. Almal was in vervoering oor die kunstige rangskikkings en het dit as van die mooistes nog beskryf.
Elke jaar tydens die Wakkerstroom Musiekfees is daar ‘n Fine Arts Exhibition waar plaaslike kunstenaars ‘n geleentheid kry om hulle werk ten toon te stel. Hierdie jaar het twee onderwysers van Hoërskool Volksrust en drie leerlinge van die geleentheid gebruik gemaak. Die kunswerke wat hulle uitgestal het was van hoogstaande gehalte en het verskeie komplimente uitgelok.



