‘n Landswye kompetisie om te soek na ‘n fotogeniese gesig, is aangebied deur Zahnie Photography, en het geweldige reaksie uitgelok.
Lunette Uys, ‘n Graad 12 leerling van Volksrust Hoërskool, het aan hierdie kompetisie deelgeneem. Wat haar prestasie so merkwaardig maak, is dat sy nog nooit vantevore aan enige kompetisie van hierdie aard deelgeneem het nie. Met die plasing van haar inskrywing op Facebook Mej Plaasmeisie/Mnr Boerseun, het haar foto ‘n totaal van amper agt duisend besigtigings ontvang.
Drie beoordelaars aangestel deur Zahnie Photography was Jaco en Carin Hoffmann van Digipix, Johannesburg, Yolanda Billing, Mosambiek en Wanda Landman, Graaff-Reinet.
Lunette was deur hierdie beoordelaars aangewys as die Algehele Wenner.
Zahnie Harris het vir Lunette ‘n paar vrae gevra oor haarself. Hier is wat sy te sê gehad het:
Q: Waarom het jy ingeskryf vir die landswye Mej Plaasmeisie kompetisie? Hoe het jy die aanbieding van die kompetisie ervaar?
A: Die plaas is my lewe. Ek het grootgeword op n plaas en spandeer baie van my tyd in die natuur. Ek glo dat ‘n mens trots moet wees op waarvandaan jy kom. Ek is trots om te kan sê dat ek n plaasmeisie is en vir altyd een sal bly. Die aanbieding was vir my “tops” gewees. Die punt dat mense landswyd kon inskryf, maak dat die kompetisie groter en meer uitdagend is.
Q: Watter uitdagings gaan Graad 12 vir jou bied?
A: Graad 12 is ongelooflik besig en die werk is baie, maar afgesien daarvan is dit die lekkerste skooljaar nog. Harde werk, lojaliteit, positiwiteit en deursettingsvermoë is dinge wat ek hierdie jaar baie gebruik. Daar is belangrike eksamens wat voorlê wat met my toekoms verband hou, so ook die aansoeke by universiteite.
Q: Hoe beplan jy jou matriekafskeidrok en hoe gaan jy jou ma betrek met hierdie hoogtepunt wat vir jou voorlê?
A: Dit is n groot verrassing. Ek sal wel sê ek dink dat dit my persoonlikheid ongelooflik goed uitbeeld. My ma is n modeontwerper en het n goeie oog vir styl. Sy sal help om seker te maak die rok is soos wat ek dit graag wil hê.
Q: In jou twaalf jaar skoolbywoning, is daar een insident wat jy altyd sal onthou?
A: Daar is baie dinge wat ek nooit sal vergeet nie. Dit maak jou wie jy is en hoe jy in sekere situasies optree.
Q: Wat beplan jy vir volgende jaar?
A: Ek is ongelooflik lief vir kinders en wil graag volgende jaar begin met my studie en opleiding in B Prim Ed. Tog kan n mens alles beplan maar wat God vir jou beplan, sal altyd gebeur.
Zahnie Photography wens Lunettte alles toe wat mooi is en wil haar graag aanspoor om aan verdere fotogeniese kompetisies deel te neem.
“Baie geluk Lunette, om met jou eerste deelname weg te stap met die gesogte titel. Dit vertel my dat jy verseker baie potensiaal het,” het organiseerder van Mej Plaasmeisie/Boerseun, Zahnie Harris gesê.



