Uitgereik deur Lucas Meyer Primêre Skool
DIE afgelope Ruk het LMS se leerlinge weer gedemonstreer dat hulle ‘n positiewe lewensingesteldheid het, geleenthede aangryp en trots daarop is om leerlinge van ‘n puik skool te wees.
Swem: Die swemgala vir o/10 – o/13 was ‘n groot sukses. Die swemmers en toeskouers was begeesterd en het die dag terdeë geniet. Verskeie nuwe pret-items is tot die program gevoeg, wat daartoe bygedra het dat meer leerlinge by die gala betrek word. Massadeelname is ‘n beginsel wat by LMS bevorder en gekoester word en elke leerling moet weet dat hy/sy ‘n belangrike skakel in LMS se suksesverhaal is.
Baie geluk aan Nadine van Wyk wat die 1996 rekord vir Dogters O/13 50m Borslag verbeter het. Haar tyd was 41,51 sekondes! Geluk ook aan die volgende trofee-wenners: Samuel Steyn (Junior Victor Ludorum), Dané Potgieter (Junior Victrix Ludorum), Pierre Grobler (Victor Ludorum) en Nadine van Wyk (Victrix Ludorum).
Midmar-Myl: LMS is trots op Zoë Richards en Nadine van Wyk wat die afgelope naweek aan die bekende Midmar-Myl deelgeneem het. Zoë het die afstand twee keer suksesvol voltooi en Nadine het beïndruk met haar tyd van 32,39 minute.
Atletiek: Alhoewel LMS amptelik in die derde kwartaal aan ASA atletiek deelneem, het Pierre Grobler (o/13) pragtig gevaar tydens die plaaslike USSASA byeenkomste. Hy spog met twee eerste plekke by die Bhekuzulu-byeenkoms, een in spiesgooi en een in hoogspring. Ons is trots op jou, Pierre!
Gretha Wiid: ‘n Groot groep positiewe ouers en ander belangstellendes het ‘n seminaar deur Gretha Wiid by die skool bygewoon. Dankie aan Mevv Marelize J Van Rensburg en Minicke Burger wat al die reëlings getref het.
Program: Februarie 18 – LMS Rugbykliniek met Cheetah-spelers, Februarie 19 – LMS Verjaarsdag.



