
Twee-en-twintig baie opgewonde Ichthus Gr 4 en 5 leerlinge het Dinsdagoggend saam met Mev. Viljoen, Kriel en Willemse in die pad geval.
Glamosa-glasfabriek in Estcourt het ons gefassineer waar die warm glas soos kaas gelyk het en elkeen van die leerlinge ‘n pakkie mosaiekteëls persent gekry het. Die sagte speelgoed by Bungy Toys het ons na ons kleintyd-kinderdae laat verlang en personeel moes net keer dat die kinders nie al hulle sakgeld hier spandeer nie! Danksy die wonderlike reën die afgelope seisoen was die Howick-valle ‘n pragtige gesig om te aanskou.

Hoe heerlik was dit nie vir ieder en elk om by “On The Beach” te slaap nie; letterlik oorkant die strand met die geruis van die see in ons ore!
Die suikerterminaal, die Sarie Marais – bootrit in Durban se hawe, Minitown, die Umgeni-voëlpark en ‘n besoek aan die Bybelhuis, het kleur aan die toer gegee. Moenie van die krokodilplaas, Crocodile Creek, vergeet nie, waar die aanbieder al 2 vingers verloor het nie! (Darem nie as gevolg van krokodilbyte nie!) ‘n Besoek aan die Haairaad, wat die disseksie van ‘n dooie haai ingesluit het, het menige sensitiewe Graad 4 en 5 leerling laat sidder.

Bandy het egter nie op haar laat wag nie en die vel van die dooie haai gestreel. Sandisiwe het die lewer ewe braaf vasgehou, maar amper flou geword van die reuk van sterk maagsappe van die dooie haai!
Vrydagoggend het 22 moeë kindertjies vir oulaas die dolfynvertoning en akwarium by ‘uShaka Marine World’ besoek voordat die besige pad terug Dundee toe aangedurf is.
Die personeel bedank die pragtig-gemanierde kinders vir hulle meelewing en hulpvaardigheid tydens die toer. Dit was ‘n groot plesier om hulle saam op die skooltoer te neem. D Ichthus bedank Mev. Lucia Catlett vir die bederfies op toer, al was sy nie saam nie en ons dink met innige meegevoel aan die Catlett-familie met die heengaan van Tannie Jean Catlett.



