ATKV-leier skop af met opskop by Ingudlane
Die aand is afgerond met kultuuritems deur 'n plaaslike kunstenaar - Trudie Bester, wat 'n Afrikaanse en Franse sang-item met haar besonderse stem gelewer het.
Nagenoeg 75 mense van regoor Noord-KZN – ATKV-lede maar ook nie-ATKV-lede en nog belangstellendes het te Ingudlane Lodge, Dundee, saamgekom om te kom luister na die nuwe besturende direkteur van die ATKV – me Deidre Le Hanie, wat as gasspreker opgetree het.
Met haar aansteeklike passie het sy die gehoor gou aan haar lippe laat hang vir die positiewe visie wat sy vir die ATKV het!
Sy het beklemtoon dat die ATKV hom beywer vir inklusiwiteit en ongeag dat Afrikaans steeds die spilpunt is waarom die organisasie draai, daar op talle wyses uitgereik word en hande gevat word met alle kultuurgroepe van Suid-Afrika. Op só ‘n manier word daar bevestig dat Afrikaans ‘n vriendelike en akkommoderende taal is.

Deirdre het ook genoem dat om deur die vier hooffokusse van die ATKV nl.: Taal, Kunste, Gemeenskappe en Onderwys te omarm en projekte daarop te skoei ‘n daadwerklike verskil in gemeenskappe regoor die land asook Namibië gemaak kan word.ATKV-takke wat uitstaande projekte aangebied het, is die geleentheid gebied om meer van die spesifieke projek te vertel en hoekom dit so ‘n groot sukses was. Die takke ter sprake was ATKV-tak Durban, ATKV-tak Glencoe en ATKV-tak Paulpietersburg.
Om die regte Slagvelde-atmosfeer aan die aand te kon verleen, het plaaslike inwoners soos Gavin Slater en Pam MacFadden, en van haar personeel, ingestem om soos onderskeidelik ‘n Boer, ‘n Brit, ‘n Khaki, ‘n Zoeloe-kryger en ook tradisionele Victoriaanse drag aan te trek. Dundee is geografies in die hartjie van die Noord-KZN Slagveldroete geleë met talle kultuurhistoriese besienswaardighede uit daardie era.

Trudie BesterDie aand is afgerond met kultuuritems deur ‘n plaaslike kunstenaar – Trudie Bester, wat ‘n Afrikaanse en Franse sang-item met haar besonderse stem gelewer het.
Die “Harmony Voices” – ‘n Zoeloesprekende sanggroep o.l.v. mnr Charles Dube van Hoërskool Sarel Cilliers, Glencoe, het met hulle tipiese natuurlike ritme groot byval gevind!
Die aand is afgesluit deur ‘n heerlike vinger-ete waartydens daar gesellig saam verkeer en oor ‘n glasie wyn gesels is.



