Local newsVryheid Herald

Plaaslike historikus deel Vryheid se stories op Kwêla

Kwêla belig André van Ellinckhuyzen se historiese boeke en museumprojek in Vryheid.

Plaaslike historikus en skrywer, André van Ellinckhuyzen, het Donderdag voor die televisiekameras verskyn toe Pieter Koen van die KykNet-program Kwêla hom besoek het vir ’n onderhoud oor sy historiese boeke en die opgradering van die Nieuwe Republiek Museum.

Die onderhoud het gefokus op Van Ellinckhuyzen se passie vir die bewaring van plaaslike geskiedenis deur middel van sy skryfwerk, asook sy betrokkenheid by die herstel en instandhouding van die museum. As dryfkrag agter die opknapping van die Nieuwe Republiek Museum het hy die projek gelei en gekoördineer, met die ondersteuning van talle gemeenskapslede, vrywilligers en plaaslike besighede wat hul tyd, kundigheid en hulpbronne beskikbaar gestel het. Die opgradering het ten doel gehad om die museum as ’n waardevolle bewaarplek van die dorp se geskiedenis vir toekomstige geslagte te bewaar.

Gemeenskap bou saam aan erfenis

Danksy gemeenskapsamewerking het die museum, wat in die historiese Raadsaal gehuisves word, vandag ontwikkel tot ’n volwaardige museum met ’n groeiende versameling artefakte, waartoe inwoners steeds gereeld historiese items en memorabilia bydra.

Deur sy boeke en sy toewyding aan erfenisbewaring help Van Ellinckhuyzen om te verseker dat die streek se geskiedenis en verhale nie verlore gaan nie. Sy publikasies werp lig op belangrike plaaslike gebeure en karakters wat ’n rol in die ontwikkeling van die gemeenskap gespeel het.

Oxford Lodge bied gepaste agtergrond

Die onderhoud is by Oxford Lodge opgeneem, ’n plek met ’n besondere verbintenis tot een van die karakters in Van Ellinckhuyzen se boek Tommie. Volgens die verhaal het Tommie tydens sy skoolloopbaan by die burgemeester in die huis gewoon wat vandag as Oxford Lodge bekend staan. Dit is ook daar waar Tommie sy eerste liefde ontmoet het, wat die ligging ’n gepaste en betekenisvolle agtergrond vir die onderhoud gemaak het.

Ontspanne ervaring voor die kameras

Van Ellinckhuyzen het die ervaring as besonder aangenaam beskryf. Volgens hom is Pieter Koen ’n gemaklike en vriendelike mens om mee te gesels, wat die onderhoud natuurlik laat verloop het. Hy sê die hele proses het sonder enige ongemak plaasgevind en dat hy die geleentheid geniet het om oor die geskiedenis van die omgewing en sy publikasies te praat.

Paaie kom ook ter sprake

Tydens die besoek het Koen ook kortliks verwys na die toestand van Suid-Afrika se paaie. Nadat ’n joernalis navraag gedoen het oor hul reis na Vryheid, het hy opgemerk dat die pad vanaf Ladysmith na Vryheid min of meer dieselfde lyk as die meeste, indien nie alle, paaie wat hulle elders in die land gebruik. Die opmerking het die uitdagings van Suid-Afrika se padinfrastruktuur beklemtoon, ’n onderwerp waarmee baie inwoners daagliks vertroud is.

Uitsending volg binnekort

Inwoners sal nie lank hoef te wag om die onderhoud te sien nie. Die insetsel sal na verwagting binne die volgende drie tot vier weke op KykNet se Kwêla uitgesaai word, waar Van Ellinckhuyzen se historiese boeke en die Nieuwe Republiek Museum aan ’n nasionale gehoor bekendgestel sal word.

Erfenis kry nasionale erkenning

Die televisie-insetsel het nie net die belangrikheid van die bewaring van historiese kennis beklemtoon nie, maar ook aandag gevestig op die waarde van gemeenskapsamewerking in die beskerming van plaaslike erfenis. Die Nieuwe Republiek Museum staan vandag as ’n voorbeeld van wat bereik kan word wanneer inwoners en besighede saamwerk om hul geskiedenis te bewaar.

Alhoewel inwoners dikwels meer bewus is van die uitdagings waarmee die dorp daagliks te kampe het, van diensleweringsprobleme tot slaggate, is daar steeds stories van passie, deursettingsvermoë en gemeenskapstrots wat die moeite werd is om te vertel. Van Ellinckhuyzen se toewyding aan die bewaring van die dorp se plaaslike geskiedenis en die opknapping van die Nieuwe Republiek Museum is een van daardie juweelstories wat die belangstelling van ’n nasionale televisieprogram soos Kwêla geprikkel het. Dit dien as herinnering dat Vryheid se grootste bate nie net in sy geskiedenis lê nie, maar ook in die mense wat daardie geskiedenis lewendig hou.

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Carlien Grobler

A community-based journalist at Vryheid Herald since 2019, reporting on everything from hard news to human interest stories and sports, keeping the community informed

Related Articles

Back to top button