Pionier-leerder geniet ATKV-Kultuurkuier
Die oorlewing van Afrikaans is afhanklik van die omsingeling van almal wat gretig is om die taal te deel.
Wijtske Fourie, sekretaresse van Pionier se ATKV-jeugtak, Hupstoot, het vanaf 13 – 15 Mei die voorreg gehad om die ATKV-Kultuurkuier by die pragtige ATKV Goudini Spa by te woon.
In 2023 was die tema vir daardie jaar “Reik na die sterre”. 2024 se tema was nader aan die hart en het op plaaslike gemeenskappe gefokus. Hierdie jaar se ATKV-tema kom die naaste aan mense as individue, “Innovasie en hoop: ‘n plan vir omgee.”
Daar was ‘n rekordhoë bywoning van ongeveer 340 individue, omtrent die helfte van die verteenwoordigde takke was jeugtakke.
Die eerste aand is die vermaak deur die Kaapse Klopse, The West Coast Minstrels, aangebied en is dit deur ‘n eenvrou-toneelspel deur Ilné Fourie, genaamd “Shut up en eet jou kos” opgevolg
Die volgende oggend is die kuier deur mnr. Archie van Biljon (ATKV-tak Witzenberg) geopen met die aanmoediging vir elke afgevaardige om hierdie jaar ‘n hoopvolle rolspeler in hulle gemeenskappe te wees.
Die voorsitter van die ATKV-MSW-Direksie, dr. Marlene Le Roux, het verduidelik dat innovasie en hoop vir haar beteken om uit jou gemeenskap te breek en aan diverse gemeenskappe en kulture deel te neem.
Daar is hierdie jaar nege mosies vir die komende jaar gedurende die mosiebespreking gedeel. Later in die jaar sal die aanvaarde mosies gedurende die virtuele algemene jaarvergadering bespreek word. Die hoofneigings van mosies hierdie jaar het gefokus op die verbetering van onderwysstandaarde vir alle leerlinge en ook die stigting en bevestiging van Afrikaans as ‘n Afrika-taal. Na die mosiebespreking het die volwassenes en jeugtaklede na hulle verskeie gespreksessies toe verdeel.
Die eerste gespreksessie by die jeugtakke is deur pastoor Ivor Swarts, ‘n man wat homself kategoriseer as ‘n hardkoppige optimis en motiveringspreker van formaat, gelei. Sy gespreksessie se tema was: “Gaan jy jou omstandighede verander of gaan jou omstandighede jou verander?” Een van die treffendste dele van sy gesprek was toe hy genoem het dat begraafplase vol mense is wat môre ‘n verskil sou maak.
Die volgende spreker was die bekende akteur, Paul Strydom. Paul se gespreksessie was oor sy eie lewenskwessies, naamlik toe hy sy hoofleierskap verloor het en daarna die ATKV-Tienertoneel met sy eie toneelspel, Slaansak, gewen het.
Die tweede aand was die dinee en die lede is deur die talentvolle sangers, Elvis Blue en Tarryn Lamb, verras.
Die laaste amptelike dag van die kuier is vir wegbreeksessies vir elke streek deur die streekleier aangebied. In hierdie wegbreeksessie was dit bekend gemaak dat daar ‘n groot algemene negatiwiteit teenoor kultuuraktiwiteite en Afrikaans in KwaZulu-Natal ontstaan het.
Wijtske het die volgende geleer: Afrikaans is deel van ons land se kultuur. Ons moet dit koester en beskerm, maar ons moet nie bang wees om dit te deel nie. Die oorlewing van Afrikaans is afhanklik van die omsingeling van almal wat gretig is om die taal te deel.
ALSO READ: Pionier is PSG Super 8-Sportskool 2025
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area



