BlogsDie WoestynrotOpinion

“’n Donkie se ore is altyd te lank…”

Ek het my gat af gesukkel met die laai wat die vrou in die kombuis wou hê. Ons het ‘n sementtoonbank laat insit, met rakke, en in een van die rakke moes daar toe ‘n messe-en-vurkelaai inkom. Toe ek onder die toonbank inkyk, sien ek dat die ou bokker wat die ding ingesit het, die …

Ek het my gat af gesukkel met die laai wat die vrou in die kombuis wou hê. Ons het ‘n sementtoonbank laat insit, met rakke, en in een van die rakke moes daar toe ‘n messe-en-vurkelaai inkom. Toe ek onder die toonbank inkyk, sien ek dat die ou bokker wat die ding ingesit het, die lintel redelik soos sy gat aan die onderkant gepleister het. My geduld was op daardie oomblik voor ‘n beproewing soos die Bowman as hy op Maandae moet wag vir my, of ek een van my stories vergeet het.

In ieder geval, of overgezegd zynde en desnieteenstaande, soos oom Oubaas sou sê, ons het toe nou probeer om die laai onder die toonbank in te kry. Die eerste probeerslag was soos Simson en sy eselskakebeen – grimmig. Iets hak aan die sementknoetse aan die onderkant, en ek gryp weer die skaaf. ‘n Mat houtskaafsels later, heelwat flenters geduld, en ‘n humeur soos ‘n olifantbul met ‘n seer kiestand, dink ek skielik aan ‘n storie wat my pa my altyd vertel het.

Hy het vertel dat hulle, as kinders, eendag op een van die karretjie mense afgekom het, daar innie Hantam, waar die ou trekskepsel oor die pad probeer kom het met sy karretjie en die twee ou druipstert, langoor, vlaktedonkies. Nou, die pad was so op ‘n hoogtetjie, en die donkies het bly gly teen die klippers op die steil skouer van die pad. My pa beduie toe na ‘n laagwaterbruggie, so ‘n stormwateraffêretjie ‘n ent verder in die pad af, en vra toe of hy nie daar wou probeer nie.

Die ou kêrel vat toe sy spannetjie soontoe, maar ‘n verdere probleem steek toe sy kop uit. Die donkies pas nie onner die bruggie deur nie. Iedere een se ore is so ‘n halfsentimeter te lank. Met al die geduld van die Ou Testament klim die ou siel af, vat ‘n verslete ou diamanthamertjie en beiteltjie, en begin toe ‘n slootjie in die konkreit te kap sodat elke donkie se ore sonner teenslag kan vooruitgaan (of laaie onner die lintels kan ingaan?). My pa en sy broers het hierie gedoente so bekyk, en toe vra hy onskuldig, “Sal dit nie makliker wees om maar net die sand onner die donkie se pote weg te vat nie?”

Daai ou kêrel laat staan sy pogings daar onner die brug, skuifel agter die donkies verby, skud vannie sementkrummels van sy ou sonvertrapte gevreet af, en sê met al die waardigheid wat sy soort ouderdom kan uitstal, “Dissie die donkie se blerrie pote wat te lank issie, dis sy ore.” Sela. Sonne’ enige seremonie draai hy om, en gaan kap verder aan sy slootjies.

Ek het my eie slootjies só bekyk, en terstond besluit om die donkie se pote af te sny. Die laai is eenkant toe gegooi, die sementkrummels opgetel, my ego afgestof, en ek het gaan koffiemaak. Terwyl ek aan my pa se eie sonvertrapte gesig dink waarop die lewe ook al harde spore getrap het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Terry Worley

Terry Worley has been associated with the Courier for many years and is involved in the community covering a variety of issues affecting residents. He has a passion for local politics and for the history of the area.

Related Articles

Back to top button