‘n Girl vir elke seisoen…
Dit was soos verkoue, griep, maagwerk en babelas in een teug. Ek was amper 40 jaar oud, maar sy het my nog soos ‘n matrieklaaitie laat voel. En dink. Ek het jare later my eie dogter aanskou hoe sy heeltemal simpel raak as ‘n seker mannetjie naby haar kom, en in my eie wysheid onthou …
Dit was soos verkoue, griep, maagwerk en babelas in een teug. Ek was amper 40 jaar oud, maar sy het my nog soos ‘n matrieklaaitie laat voel. En dink. Ek het jare later my eie dogter aanskou hoe sy heeltemal simpel raak as ‘n seker mannetjie naby haar kom, en in my eie wysheid onthou hoe siek ek geraak het as dieselfde ding met my gebeur. Daar is net verdomp eenvoudig niks wat jy daaraan kan doen nie. Jy is verlore en verlief, en jy het geen bleddie beheer daaroor nie. Die girl is waarskynlik nie ‘n oil painting nie, maar in jou oë is sy die Mona Lisa, Pamela Anderson, jou ma, Julia Roberts, Jennifer Lopez, enige girl op die Baywatch set, en wie ookal nog wat saak maak, in een pakkie gerol….
Jy wéét sy moet die ma van jou kinders wees, maar sy weet dit nie, en jy moet haar nog vra. Enkele maande later kry jy dit reg, julle doen die ding, en sy dra jou naam. ID-boekies en paspoorte word verander, en julle sit saam huis op. Die eerste sewe-en-twintig en ‘n half maande word ‘n honeymoon wat jy in jou wildste drome nie verwag het nie, maar dan daag die eerste brats op. Ek het ‘n pél gehad in 32 Bataljon wat ‘n matriekmeisietjie getrou het wat seker amper 20 jaar jonger was as hy. Binne enkele maande was die ou dingetjie swanger, en een aand roep sy hom op die plaas.
Hy word vertel dat haar water gebreek het. Watse water? Hy verstaan nie, en sê sy moet pasop dat sy nie in die glasstukke trap nie. Van die glas water wat sy dan nou gebreek het, hoe nou anders? Sy skel hom om nie bleddie stupid te wees nie, hy skrik sy gat af, help haar lomp die Ford-bakkie in, en hulle jaag in die donker na die hek by die grootpad Tsumeb toe. Hy maak dit nie, en net voor die hek moet hy sy baba vang. Binne in die Ford. Ek vra later my pa waar ek gebore is, en hy sê op die trein tussen Aus en Luderitz. Red nou ‘n volk…
My ou maat sê later aan my dat hy nie geweet het dis só maklik nie. Hy was gelukkig. Sy matriekmeisie het later ‘n boervrou geword sonder weerga, wat ‘n aanstormende Brahmanbul geface het omdat daar kinders was wat nie kon wegkom nie. Amper soos Karen Blixen met die sweep, wat die leeus weggehou van haar bees af. My eie vrou, my ou wip, my ou gibbes, my ou maat, wat my uitgetrek het uit die doldrums van ‘n lewe in uniform, my behoud en my rede om wakker te word, het nou die aand gekraai van die lag soos wat sy die fliek oor daai dansende pikkewyne geniet het, en ek dink weer aan die Bowman wat dieselfde goete sê oor sy eie missus.
Maak wat jy wil, maar as ons hulle nie gehad het nie, dan het ons nog iewers bo in Afrika in pantserkarre gesit. Daar moet dalk ‘n wet wees wat maak dat net vrouens kan president van die land word. Ons het ons beurt gehad, en ek dink nie ons was baie suksesvol nie. Ons moet dalk net die presidensiële jet van hulle weghou. En die kredietkaarte vir Doebai.



