Oompie Dirk en die Muskadelkie
Daai blerrie Aap kom nou hier aan met ‘n storie oor die Kroo se karretjiemense wat so oor’ie vlaktes swerwe en skaapskeer by verskeie opstalle. Die mal boelterriër lê en suig aan ‘n suurlemoen wat sy van die boom af gesteel het. Ewenwel, Aap en sy gespuis is skynbaar afdiens, en hy maak hom mos …
Daai blerrie Aap kom nou hier aan met ‘n storie oor die Kroo se karretjiemense wat so oor’ie vlaktes swerwe en skaapskeer by verskeie opstalle. Die mal boelterriër lê en suig aan ‘n suurlemoen wat sy van die boom af gesteel het. Ewenwel, Aap en sy gespuis is skynbaar afdiens, en hy maak hom mos toe tuis in my kapteinstoel daar op die stoep. Beginne te vertel van die storie van so ‘n geselskap onder leiding van die einste Kareltjie Persendt, soms van Williston. Die manne had skerm opgeslaan op ‘n yskoue Hantamvlakte, met Klein-kareltjie wat alle hulle se toiings en pakkase innie noute van die staning, neffens die koffievuurtjie gestaa’maak het. Nou, daar was ‘n anner ou toiing, oompie Dirkgoete, saam met hulle, sommer so ‘n ou robbies wat gekom aanhak het, net vir Kareltjie se muskadelkie wat hy innie wakis bêre, en sy ou kou-paaillit, ‘n lieplapper wat Skoene heet, wat heeldag dagga rook. Die omkyktwakkie se walms hang al so permanent aan hom, en het die ou donner se kop heeltemal gaargebak.
Nou, dié nag heers daar so van uh bitterlike onkristelike koue oor die vlakte, en die manne pak saam ommie vuur innie staning. Ou Skoene sit so naby die vuur, oppie hurke, ou Dirk suie neffens agter aan ‘n enemmelkie met so bietjie van Kareltjie se afgestaande muskadelkie in, Kareltjie homselwers sit rustig teenaan sy kis, en suie aan sy eie ou stinkpyp, met sy blik op oneindig en sy verstand op nul. Almal raak effe onner die invloed van die walms, en daai donnerwetter van ‘n Klein-kareltjie begin toe mos planne maak met die hitsige gorraklip wat so halflyf innie vuur lê. Oompie Dirkgoete beginne uitklats, en Skoene steel so ongemerk ‘n happie uit die enemmelkie, so oor sy skouer, elke keer as oompie Dirk se dif innie grond steek. Nou, elke keer as Skoene so oorleun om ‘n slukkie te vat, dan trek sy ou flenterbroek oop, en die ou se kroonjuwele haal so ‘n slag diep asem in die vuur se asem. Met die laaste steelslag het daai klein Persendt die gorraklip tot téénaan geskuiwe met die vuurstok, en toe ou Skoen weer kom gemaklik raak, sit hy juwele en al op daai duiwelse warm klip. “Alle gode en klein vissies,” sê Aap. “Die konsternasies wat toe in dáái skerm losbars…”
“Skoene loop vattie pad mos toe daai groot brand hom hier van onner pak, en sy gil van horreur, pyn en skrik laat mens en dier uit die walms wegskrik in alle rigtings in. Hulle loop daai staning in sy malle moer in, die enemmelkies val so ‘ghoenk’ oppie yskoue grond, oompie Karel val sy pyp breek agter sy kis in, oompie Dirkgoete spat weg dat die toiings trek, moertoe die donkerte in soos allie muskadelduiwels hier aan sy hart kom peuter…”
“Nodeloos om te sê, met sonsopkoms daai volgende môre, na Kleinkareltjie homself uitgelag het, is oompie Dirk en Skoene digby Carnavon weer geloop vang, waar hulle bewend en pynlik genade in ‘n boom loop soek het, met die rook wat nog uit Skoene gedraai het.. Mettie stopslag het Grootkarel, sy stukkende pyp vasgeklem tussen sy grimmige tanne, ‘n slaanding agterie kis uitgetrek, en daai jongman daar oppie vlakte weer goedgetimmer dat hy sy eie vatplekke nie ken nie”.
Aap skep asem. So ‘n brandplek moet seker seer wees, dink ek, en kyk na my eie sit. Dalk moet ek so ‘n triek trek op ‘n paar ouens hier in Dundee…wonner hoe hoog sal die Tarentaal spring…?



