
Mevrou – Hoe op dees aarde kan mense wat na S.A. toe geïmmigreer het, onbehoorlik aangeval word en hul besittings uit hul besigheid weggedra word nadat hul plek eers goed afgebreek en getakel is deur vandaliste?
Hierdie mense het aan baie mense werk verskaf. Mense wat nie eens in ons eie land reg kon kom met ‘n werk nie. Dit is mense wat weet hoe om ‘n besigheid te bedryf maar nie meer in hul eie land mag handeldryf of welkom is nie weens haglike omstandighede!
Destyds het ons mense weens apartheid na naburige lande toe gevlug en daar ‘n lewe gevoer sonder om weg te kruip vir vreemdelingehaat. Ek is so skaam vir die mense wat voor jong kinders so verskriklik tekere gaan, mense liggaamlike leed aandoen, sowel as om hul besittings te steel en met ‘n oorwinnende grynslag weg te stap, hul arms vol verbruikersware wat nie aan hulle behoort nie.
Watter boodskap dra dit uit na die buiteland? Ek sidder as ek net daaraan dink! Ons pragtige land word nou al beskryf as ‘n land van moord en doodslag. Kom laat ons dit oor en oor doen en ‘n vlaag van xenofobie begin! Maak nie saak of die mense wettig of onwettig hier is nie!
Laat ons maar so voortgaan! Dis mos lekker om kos en klere en allerhande goed net te buit uit al wat ‘n besigheid vanuit die buiteland af kom! Ek erken dat daar onwettige mense uit ander lande hier is, maar hulle word uitgeken en gedeporteer.
Maar as jy wettig hier is, hoekom die persoon bedreig met pangas en liederlike goed aanvang?
Bella Bonzi



