Staan vir ‘n slag saam en wys wat in Suid-Afrikaners steek!
Mevrou – Dit is so ‘n hartseersaak, dat ons land nie streng prysbeheer toepas nie. So paar weke gelede se brief het my weer laat dink dat toe ek nog ‘n kind was, het artikels soos stapelvoedsel alles een prys gahad. Dit het ingesluit brood, melk, mieliemeel en suiker wat elke huishouding moet hê. Oral …

Mevrou – Dit is so ‘n hartseersaak, dat ons land nie streng prysbeheer toepas nie.
So paar weke gelede se brief het my weer laat dink dat toe ek nog ‘n kind was, het artikels soos stapelvoedsel alles een prys gahad. Dit het ingesluit brood, melk, mieliemeel en suiker wat elke huishouding moet hê. Oral was die artikels se prys dieselfde.
Plaas dat ons ons stem dik maak en die regering laat weet hoe ‘n mens daaroor voel. Nou egter, laat ons maar dat Gods waters maar oor Gods akker loop.
Koop maar en bly tevrede in jou ontevredenheid. Jy sien daagliks op straat kinders wat deur ouers gestuur word om geld te bedel. En mense hoef nie die stad af te brand om dit oor te dra nie. Daar is maniere hoe ‘n mens dit behoort te doen. Dit gaan nie juis help dat ons mekaar se motors met klippe bestook oor die netelige saak nie!
Dit is jammer hoeveel mense onder die broodlyn moet leef oor die regering se versuim om pryse te beheer. Ja, petrol gaan op en af, maar kospryse bly staan waar hy staan toe die petrolprys weer gestyg het!
Erger nog, hoeveel mense kan net van die noodsaaklikste kos lewe en dit ten duurste? Mense word gedwing tot misdaad deur te steel en ander seer te maak vir ‘n brood.
Ek en my gade koop nie kos ten duurste nie, maar ons hou voet by stuk dat te duur is te duur, en ons sal daarsonder bly. Nou is Kersfees ook op hande en kyk mooi hoe baie jy nou gaan betaal! Koop deur die jaar goed soos vleis en groente aan wat jy kan bevries.
Moenie wag tot Kersfees oor twee dae hier is nie! ‘n Mens kan goedkoop lekker eet as jy weet hoe. Dit is nie nodig om na die feestyd so platsak te wees dat jy op moedverloor se vlakte wil gaan sit en jouself jammerkry nie.
As almal saamstaan en sekere kos vir ‘n tyd lank nie te koop nie, sal dit pryse afdwing? Daar is nie ‘n kat se kans nie! Daarvoor is daar te veel supermarkte wat oornag soos paddastoele opspring en [eienaars] laat lewe soos konings met jou swaarverdiende geld.
Staan vir ‘n slag saam en wys wat in Suid-Afrikaners steek! Waar daar ‘n wil is is daar ‘n weg!
Gaaitzi Goobi



