Die dag wat ek my Griekse eiland ruil vir ‘n paar Boerevellies
Daarvoor is daar heeltemal te veel goeie mense nog hier, en daarom sal ek eerder hier sukkel as wat ek daar anderkant die water gaan wonder.

Wel, ja….nog ‘n verkiesing en sy doen en late later, en ons is presies waar ons vroeër was.
Ten minste hoef ons nie meer ‘n adjunk-burgemeester te finansier nie, en die aantal besoekers na ons slagvelde begin ook stadig maar seker meer te word.
Die omstandighede in ons land is nie ideaal nie, en die Vader weet, daar is groot foute wat nog uit die weg geruim moet word, maar daar is hoop. Hoekom sou ek so sê? Daar is net darem daardie klein bietjie meer mense wat wil vorentoe gaan as die wat wil afbrand, en dis duidelik dat daar nou ‘n wil begin posvat om teen hierdie klomp korrupte oorblyfsels van ‘n bevrydingsbeweging wat dink hulle het ‘n regering geword, op te tree.
Hoe weet ek dit? Ek weet dit as ‘n wildvreemde vrou op straat uit ‘n taxi klim en my beleefd groet waar ek voor my hek staan. Ek weet dit as die meerderheid van mense wat elke dag voor my huis verbyloop, my beleefd groet en vra hoe dit met my gaan. In elf jaar se tyd het nog net een japsnoet my probeer intimideer en vertel dat ek moet “teruggaan” Europa toe.
Suid-Afrikaners is nie regtig die wêreld se beskaafste mense nie, en ons het ook maar ‘n rekord dat ons ongeskik en platvloers kan wees. Ons is ook nie engeltjies nie, maar weet jy wat…?
Ons het die mense, ons het die moontlikheid, en ons het die wil. Dinge lyk nou wel nie rooskleurig nie, maar ons is al oor die 300 jaar in hierdie land, en ons is nog steeds hier.
Dit maak nie saak nie. Engeltjies oorleef nie in hierdie wêreld nie, en nie een van ons voorvaders was engeltjies nie. Ons is nie die wêreld se slimste nie, maar ons het ‘n reputasie dat ons ons foute regmaak, en weer opbou waar ons afbrand. Ons brand nou skole en weerhou belasting, en ons betaal nie e-tolgelde nie, maar stadig maar seker gaan ons hierdie wêreld waarin ons bly, regmaak.
Ons het die mense, ons het die moontlikheid, en ons het die wil. Dinge lyk nou wel nie rooskleurig nie, maar ons is al oor die 300 jaar in hierdie land, en ons is nog steeds hier. Peste, plae en invallers het ons getalle uitgedun, en gaan dit seker nog steeds uitdun, maar ons is hier…
Ek wil nie in Europa of Australië gaan bly nie, baie dankie, maar nee. Daar is nie koeksisters of kabeljoue nie, en daar kan ek nie Spioenkop toe gaan nie. Daar skel taxidrywers mekaar nie in Afrikaans nie, en daar kry jy nie koedoebiltong wat jou zip kan ooptrek soos die wat jy hier by daai padstal op die Glencoepad kan koop nie. Ernstig.
Daar sal jy nie onwetend met die pompjoggies by Tristar in Zoeloe konkel nie, en daar sal jy nie vir Mistah President of ou Sampie kan koggel oor hulle stadig is op ‘n koue môre nie. Daar sal die hekwag by Isandlwana nie vir jou sê, “Sawubona, nYati Mhlope,” nie, en daar gaan jy nie elandwors of vlakvarkvleis by die Aloes kan gaan koop nie.
Daarvoor is daar heeltemal te veel goeie mense nog hier, en daarom sal ek eerder hier sukkel as wat ek daar anderkant die water gaan wonder.
Sela.



