‘n Dreuning aan die horison is nie noodwendig ‘n trop beeste wat naderstorm nie
Wanneer gaan ons deur die skanse van ons eie rigiditeit breek..?

Sedert 1838 het ons nalatenskappe gebou, legendes geskep en songs geskryf.
Dinge het soms verkeerd gegaan, en soms het ons by die graf van jonges gestaan. Ons mense roep uit vir ‘n leier, ‘n herder, ‘n redder, en daar word storietjies oor dekolonisasie en apartheid geskryf, en jong kinders word kommisargeskiedenis op skool gevoer wat met die elikser van struggle-retoriek afgesluk moet word.
Ons raak verstar in die stadige gif van politieke korrektheid en ons begin die nalatenskap van historiese figure herskryf en herbou. Ons voorvaders staan skielik voor in die ry na die uitwissingskamp van historiese vergetelheid, en ons begin alle konteks verloor met oor die 300 jaar se wonderwerke en prestasie.
Daar is ‘n asemrowende verhaal in ons kaste weggesluit, ‘n verhaal wat ons vlugtig oor skuifel en weer onder die vuil onderklere van ons huidige bestel wegbêre. Dis die verhaal van een van die mees wonderbaarlikste etniese groeperinge wat die wêreld ooit gesien het, maar hulle het ‘n probleem. Een wat hulle dalk self geskep het – hul Skepper het hulle geseën met die geen van selfvernietiging, en hulle wend dit vandag aan soos ‘n stomp instrument.
In die voorportaal van hulle ontwikkeling het hulle nie politici geken nie, en politieke partye was wetenskapfiksie. Hulle was omvou met ‘n onverklaarbare gevoel van self, wat later in ‘n ongelooflike storm van onvergenoegdheid gemanifesteer het toe duisende van hulle oor die grens van hulle land gebars het in opstand teen ‘n kriminele empaaier wat hulle probeer uitwis het oor een eenvoudige feit.
Hulle was geswore individualiste met ‘n gly in outoriteit en ‘n helde-verering vir hulle kommandante gehad het, en hulle was geen engeltjies nie. Niemand was engeltjies daardie dae nie, want die wêreld het nie met engeltjies en sneeuvlokkies simpatie gehad nie. Hulle het net eenvoudig nie oorleef nie.
Hulle het meer as een taal gepraat, wat ‘n pynlike teenstrydigheid is vir die opvoeders van vandag, want hulle verstaan dit nie.
Hulle het in net minder as drie jaar ‘n oormag van een tot vyf-en-twintig met ‘n puriteinse eerlikheid teengestaan, tot die wêreld om hulle genoeg, geblaf het. Hulle het ‘n voleinding van industrieë tot stand gebring op die trane, pyn en sweet van die wat voor hulle gegaan het.
Hulle het ‘n genetika tot stand gebring wat hulle self nie verstaan het nie, maar dit het ‘n verset in hulle psige gekweek wat die wêreld vandag nog nie kan artikuleer nie.
En enigiets wat die wêreld nie kan artikuleer nie, probeer dit vernietig, want ons dra die geen van ons eie verwoesting in die bloed wat deur ons are voorttuimel. want ons vergeet die lesse van 1838, en ons vergeet die lesse van 1900, en ons wil nie onthou wie ons Herder was wat ons gelei het, en wat ons skanse in ons koppe oopgebreek het nie.
Wanneer gaan ons deur die skanse van ons eie rigiditeit breek..?
Wanneer gaan ons ophou om so vreeslik bang te wees…?
Wanneer gaan ons ons eie storie begin lees…?
Wanneer gaan ons begin om die volgende hoofstuk te skryf..?
En wat gaan ons aan ons kinders sê wanneer hulle begin om te vra wat het ons gedoen toe ons wêreld ons met ons eie Vereeniging-oomblik gekonfronteer het..?



