“Wanneer ‘n plek jou dom maak…..”
Flinke kêrels, maar hulle donder verby, en draai in Handleystraat af. Ek beduie en waai met die flits, maar die wind waai wes.

Ek staan al met my een voet in die stiebeuel, op pad Platrand toe, met die gaste wat nog by die Oval opgetel moet word, toe ek van ‘n irritasie bewus word.
Ek het nie my kolom geskryf nie. Gisteraand was daar weer die gewone oordosis drama in die park agter my muur, met ‘n idioot van Glencoe wat daar kom vleisbraai het, ten spyte van die borde wat duidelik aan hom uitspel dat hy dit nie mag doen nie.
Dis natuurlik ook iets wat die plaaslike polisie se denkprosesse ontglip, en meer, nie een van hulle het al ooit van iets soos ‘n munisipale verordening gehoor nie. Nou ja, die braaivleisvuur brand hoog, die township kwaza-kwaza weergalm deur die hele buurt, en toe die bondel besluit om ankers te lig, keer hulle die braaivuur sommer net daar om.
Ek skel hom om eerder op die vuur sy sake te doen, en hy wip toe sy gat, en berispe my in kraakvars Zoeloe dat ek nie ‘n vuur so kan los nie.
Nou ja, man moet seker maar in gedagte hou dat hy nou nie juis sy vuur in sy groen Isuzubakkie kon laai nie, so toe dop hy hom maar daar uit. In die gras. Ek vermoed later onraad, en ek ruik iets brand. Dis donker al, en ek sien onmiddellik die hoop kole, wat so wil-wil ontvlam, want toe begin daar ‘n winderigheidjie ook opsteek.
Dag ek toe mos ek bel maar gou die brandweer. Kom my maatskaplike verantwoordelikheid na, weet jy mos. Bel die kêrels, met ‘n baie vriendelike ou meisietjie wat die foon optel. Ek vertel my storie, en stap oor na die muur toe om vir die seuns te loop wag. Die vuur is net in die park in, vanuit Coronation Straat. Ek staan nog so en wonder of ek iets aan die vuur moet doen, toe die brandweerwa soos ‘n mobiele Kersboom in die donker aankom. Flinke kêrels, maar hulle donder verby, en draai in Handleystraat af. Ek beduie en waai met die flits, maar die wind waai wes.
Die brandweer verdwyn aanstons, en ek loer benoud na die vlamme wat begin lek. Ek gaan bel weer daai vriendelike kind, wat my toe skel en sê hulle het niks gesien nie. Ek wip my gat en beduie toe aan die stemmetjie die konsep van ‘n vierkantige park, wat vier kante het, met ‘n brandweer wat net aan die een kant vuur gesoek het.
Ek beduie toe maar aan hulle om maar weer te gaan rus, en sê ek sal self hierdie vermaledydse vuur gaan doodmaak. Storm by die hek uit met ‘n graaf en ‘n emmer water, en kry ‘n dronkgat in ‘n Ladysmith-bakkie wat staan en pie langs die pad. Ek skel hom om eerder op die vuur sy sake te doen, en hy wip toe sy gat, en berispe my in kraakvars Zoeloe dat ek nie ‘n vuur so kan los nie.
Bid jou aan. Ek gooi die vuur dood, werk hom so bietjie met die graaf en gaan huis toe. Natgesweet, en toe ek wou gaan stort, is die water afgedraai. Wat is daai bleddie storie nou…???
En vanoggend onthou ek toe eers weer my kolom… Sela.



