Boesemvriendinne help met byna 10 000 borsprosteses
"Alhoewel die uitdeeldag jaarliks in Oktober plaasvind, stop die breiery nie hier nie. Dit is dalk die einde van Oktober, maar borskanker-bewusmaking en gemeenskapsdeelname moet voortgaan," sê Roux.

Byna 10 000 vroue wat hul borste weens borskanker verloor het, is al met die hulp van die private sektor en die publiek gehelp met sagte, gebreide borsprosteses om hul waardigheid en selfvertroue te herwin.
Solidariteit Helpende Hand se Boesemvriendinne-projek wat in 2021 begin is, vier vanjaar merkwaardige groei met die insameling van 1 273 borsprosteses wat deur kranige Helpende Hand-ondersteuners reg oor die land gebrei of gehekel is.
Danksy ‘n skenking van gehaltesportsokkies deur SOX en USN ter waarde van R150 000 wat verkoop gaan word, kan die projek voortgaan om ook nog prosteses voor Oktober 2025 te vervaardig. Dit sal die totale aantal prosteses wat in 2025 aan die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) gestuur kan word om te versprei onder vroue wat dit nodig het op 3 447 te staan bring. Die ekstra finansiering van wol en materiaal maak dit moontlik om nóg breipakkette beskikbaar te stel en volgehoue ondersteuning aan vroue in nood te bied.
“Borskanker raak vroue reg oor die wêreld en geen vrou wil ooit so ‘n diagnose ontvang nie,” sê René Roux, bestuurshoof van media by Sollidariteit Helpende Hand. “Sommige vroue kan terselfdertyd ‘n borsrekonstruksie kry, maar vir baie is dit nie finansieel haalbaar nie. Dit raak hul selfbeeld en lewensgehalte diep, en daarom is die Boesemvriendinne-projek so belangrik – dit help om daardie vroue se waardigheid terug te gee.”

Die sagte borsprosteses word gebrei as deel van Helpende Hand se FroueVonds-projek, wat daarop gemik is om vroue in moeilike tye te ondersteun. Die naam ‘FroueVonds’ word doelbewus verkeerd gespel om te beklemtoon dat dinge nie altyd reg loop nie – maar dat ‘n gemeenskap hoop kan bring deur saam te staan.
“Alhoewel die uitdeeldag jaarliks in Oktober plaasvind, stop die breiery nie hier nie. Dit is dalk die einde van Oktober, maar borskanker-bewusmaking en gemeenskapsdeelname moet voortgaan,” sê Roux.
“Dit is ‘n mooi, sagte projek waar elke breisteek tel. Die gemeenskap se deelname bewys dat ons vroue wat dit die nodigste het saam kan ondersteun.”
Gratis, inspirerende boek vir vroue met kanker
‘n Hoogtepunt van vanjaar se projek is die bekendstelling van Tarina Hattingh se boek, Oorwinning begin by die eerste tree, waarin sy haar stryd met en oorwinning oor borskanker beskryf. Die boek deel nie net haar emosionele en fisiese reis nie, maar ook haar geloof wat haar deur die donker tye gedra het.
In die boek vertel Tarina hoe haar lewe in 2022 onherroeplik verander het toe sy die diagnose ontvang het: “In minder as ‘n week het my lewe van vol beheer verander na totale onsekerheid, waar ek bloot van uitdaging na uitdaging moes beweeg. Maar in die diepste moeilikhede het God my kom vrymaak en verlos,” vertel Tarina.
Tarina, wat nou in remissie is, beskryf die rol van haar geloof, haar familie en vriende tydens haar herstel. Sy skryf met deernis oor haar man, Gerrit, en hul twee kinders, Christelle en Eben, en erken die belangrike ondersteuning wat sy van hulle en ander geliefdes ontvang het.
Die boek beklemtoon die krag van geloof en die belangrikheid van gemeenskap en hoop. Dit dien as inspirasie vir almal wat tans teen kanker baklei, asook vir geliefdes wat aan die kantlyn staan of reeds verlies ervaar het.
“Met hierdie boek hoop ek om die emosie van hoop en my storie van bemoediging te deel,” sê
Tarina. “Dit is vir almal wat steeds in die stryd is, vir dié wat dit verloor het, en vir diegene wat hierdie pad nog moet stap.”
Laai die boek gratis af en brei saam vir ‘n veskil. Die boek is nou gratis beskikbaar in digitale formaat en kan afgelaai word by
www.boesemvriendinne.co.za.
Solidariteit Helpende Hand hoop dat die boek as ‘n bron van hoop en inspirasie sal dien en mense aanmoedig om hul eie genesingspad met geloof aan te pak.
Die publiek word ook uitgenooi om deel te neem aan die #Boesemvriendinne-projek. Brei-pakkette kan vir R60 elk gekoop word en sluit al die materiaal in om ‘n prostese te vervaardig.
Bydraes is welkom en kan gemaak word by helpendehand.co.za/donasie met BREIKANSA as verwysing.
Vir meer inligting of om saam te brei, besoek www.boesemvriendinne.co.za.



