Urelange operasie om seuntjie uit boorgat te red
Nooddienste en gemeenskap geloof vir samewerking.
Die urelange reddingsoperasie om n driejarige kleuter uit n onbedekte en ongebruikte boorgat in Bloemfontein te kon kry is as een van die mees delikate en moeilikste reddingsoperasies beskryf.
Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Gesondheid sê die Soek- en Reddingseenheid (SARZA Vrystaat) en verskeie ander nooddienste is Vrydag na die toneel ontbied na die noodroep ontvang is van n kind wat in die 8m diep boorgat sowat 30km noordwes van Bloemfontein geval het.
Die reddingspan het verskeie uitdagings gehad om die operasie in die nou opening van ongeveer 200mm te kon uitvoer, sê Mvambi.
Die struktuur van die boorgat moes eers nagegaan word en die posisie van die kind bepaal word.
Onder die reddingswerkers was brandweerpersoneel, paramedici en gespesialiseerde reddingswerkers.
Daar kon met die kind gekommunikeer word en is voorsorgmastreëls getref om te verseker dat die gat nie sou toeval nie. Boere, die gemeenskap en besighede het gehelp met toerusting vir die gespesialiseerde reddingsoperasie, en is begin om n gat parallel met die boorgat te grawe, terwyl met n touharnas verseker is dat die kind nie dieper sou val nie.
Reddingswerkers het deurnag gewerk en is die kind die volgende oggend om ongeveer 05:35 uitgehaal.
Die kind is na die Pelenomi hospitaal geneem vir observasie en sorg en die opening van die gat geseël. Wonderbaarlik het die seuntjie net kneusplekke aan sy lyfie gehad.
Die operasie was weer eens n bewys van die samewerking en kundigheid van al die nooddiensspanne betrokke en die ondersteuning wat n gemeenskap gee in tyd van nood, is gesê.

Jy kan bydra tot die werk wat SARZA doen via Snapscan of BackaBuddy by https://www.backabuddy.co.za/organization/sarza-free-state-association



