Local newsNews

Kaapse kobra laat man by die dood omdraai

Die Kaapse Kobra is van die giftigste slange in Afrika

Dat hy so vinnig herstel het, is volgens sy dokter ‘n absolute wonderwerk, maar veral die eerste twee dae was dit ‘touch and go’ vir Jan du Toit, ‘n gewapende reaksie beampte van Parys Sekuriteit nadat ‘n Kaapse kobra hom Sondagaand in die Mokwallo-woonbuurt buite Vredefort aan sy pinkie gebyt het toe hy op ‘n alarm gereageer het.

Volgens sy vrou, Annelle, het Jan nie daarin kon slaag om ‘n foto van die slang te neem nadat hy gebyt is nie, maar kon hy wel ‘n goeie beskrywing van die slang gee. Dit tesame met die simptome wat hy gehad het, het nooddienspersoneel instaat gestel om te kon bevestig dat dit ‘n Kaapse kobra was.

Die Kaapse kobra.
Jan du Toit wat deur ‘n Kaapse Kobra gebyt is.

Hy is na die Parys-hospitaal geneem vanwaar hy met ‘n noodhelikopter na die Netcare Alberton trauma-noodeenheid vervoer en gesedeer en geventileer is.

Hy is Woensdag van die ventilator afgehaal en na ‘n gewone saal geskuif.

Hoewel hy nog gou moeg raak,  is daar geen skade aan sy ingewande nie.

Jan word vandag ontslaan en gaan dit bo verwagting goed met hom, sê sy vrou Annelle. Hy sal hom vir ‘n ruk nog stil moet gedra, maar na alles wat hy deur is, is daar dankbaarheid vir nooddienste wat so vinnig gereageer het,  sê Annelle.

Sy vertel dat haar broer Charl Pretorius, self ook ‘n paramedikus van Witbank, haar ook baie ondersteun het.

WeCare se Wynand Nel wat gereeld help met slange wat mense in hul erwe en huise  kry, sê dat slange die afgelope tyd redelik stil in die Parys-omgewing was.

Volgens slangkenner, Arno Naudé, eienaar van Snake Bite Assist in Pretoria, is net sowat vyf gevalle van slangbyte in die Vrystaat die afgelope jaar gerapporteer. Met die gevalle wat in die provinsie gerapporteer is, was dit meerendeel rinkhalse, Kaapse Kobras en  pofadders – almal giftig hoewel die rinkhals nie so giftig soos die Kaapse Kobra en ‘n pofadder is nie.

‘n Rinkhals.
‘n Pofadder.

Naudé sê die Kaapse Kobra is van die giftigste slange in Afrika en meer volop as die mamba, hoewel dié twee kop aan kop loop as dit kom by sterftes.

Byt of pik ‘n slang?

Sekere slange soos die mamba en adders pik, maar ander slange soos kobras boomslange en luislange het ‘n bytaksie, verduidelik Naudé

Hy sê lange wat nie giftig is nie, is ook dikwels meer geneig om ‘n bytaksie te hê.

Wat om te doen in geval van ‘n slangbyt:

  1. Naudé se raad is om wanneer ‘n slang jou sou byt of pik ‘n foto, ‘n foto so na as moontlik te probeer neem, mits dit veilig is, al is dit ook net van ‘n klein gedeelte van die slang se lyf. Moet egter nie kanse waag om die slang te probeer doodmaak of te vang nie. ‘n Behoorlike beskrywing van die slang kan ook noodiens- en hospitaalpersoneel help.
  2. Ry dadelik met die pasiënt na die naaste hospitaal en vra dat nooddienste jou langs die pad kry. Maak seker hulle weet watter pad jy gaan ry en sit jou noodligte aan sodat hulle jou maklik sien.
  3.  Moet onder geen omstandighede die plek waar die pasiënt gebyt/gepik is probeer afbind met ‘n verband nie.
  4. Hou die ledemaat waar die bytplek is, harthoogte.
  5. Hou die pasiënt kalm
  6. Moet onder geen omstandighede die pasiënt iets gee om te drink nie.

Wat om te doen wanneer jy ‘n slang in jou erf of huis sou kry

Dit is altyd die beste om eerder iemand te kry wat slange ken om jou te help om die slang te vang, maar sou dit nie moontlik wees nie, is ‘n besem die beste om die slang in ‘n boks of harde plastiekhouer soos ‘n asblik in te stoot. Die houer moet kan toemaak. Moenie die houer in die son laat nie en laat die slang so gou moontlik in die veld vry.

Die bruin huisslang word byvoorbeeld dikwels in erwe en huis opgemerk, maar is gewoonlik skadeloos en kan uitgeken word aan sy bruin kleur en twee wit strepe van sy neus, verby sy oë tot aan die agterkant van sy kop.

Noodnommers om te skakel

Poison Information Helpline – 086 155 5777

Snake Bite Assist (Arno Naudé) – 083 739 9303

WeCare (Wynand Nel) – 082 629 1553/ 071 554 7966

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button