Local newsNews

‘Meneer het altyd kalmte gebring’

Mnr. Lucien van Zyl, het verlede week na 29 jaar as skoolhoof van Hoërskool Parys, die tuig neergelê vir 'n welverdiende aftrede.

“Meneer het altyd in die branders gestaan. Nou kan meneer terugstaan en na die branders kyk.” Met dié woorde van mnr. Thinus Nortje, voorsitter van Hoërskool Parys se beheerliggaam, is mnr. Lucien van Zyl, Donderdag tydens die skool se saalopening gegroet toe hy sy laaste boodskap vir die leerders en personeel gegee het, en die leisels oorgegee het met die simboliese lui van die klok na bykans drie dekades waar hy die skool gelei het as hoof.

Vir Hoërskool Parys was mnr. Lucien van Zyl meer as net ‘n hoof. Hy was ‘n mentor, ‘n leier, ‘n vriend, raadgewer, vertroueling, maar by alles regverdig, gematig en iemand wat die alleenpad van ‘n leier in geloof gestap het. Daarvan het sy woorde in sy afskeidsboodskap gespreek – “Dit is alles net genade.”

Hy was gerespekteer nie net deur sy personeel, die beheerliggaam, ouers en leerders nie, maar ook in onderwyskringe en in die gemeenskap vir die manier waarop hy met kalmte, insig, empatie en wysheid leiding kon neem in elke situasie, selfs in tye van groot verandering en aanpassings waardeur die onderwys oor die afgelope jare gegaan het. Onderwysers en terreinpersoneel het getuig oor die mooi manier waarmee mnr. Van Zyl met mense kon werk. Dinge kon hoe moeilik wees – as jy in sy kantoor instap, het hy kalmte gebring, en het hy nooit alleen besluite geneem nie.

“‘n Skoolhoof moet soveel rolle vervul – predikant wees, prokureur, sielkundige, polisieman en meer,” het die skool se waarnemende hoof, mev. Lindie Daniel gesê, en bygevoeg dat mnr. Van Zyl hierdie rolle met onderskeiding vervul het, en ‘n groot leemte agterlaat. Die pos is reeds geadverteer en mev. Daniel sal waarneem totdat ‘n aanstellling deur die departement gemaak word.

Oor sy aftrede sê mnr Van Zyl wat vroeg in Februarie sy 65ste verjaardag gevier het, dat dit nou tyd is vir ‘n ander fase in sy lewe.

Hy het op 1 April 1996 as hoof by Hoërskool Parys begin nadat hy eers vir ‘n jaar hoof by Hoërskool Staatspresident Swart in Brandfort was. Hy vertel dat hy in die Noord-Kaap teen die Vaalrivier grootgeword het, en in ‘n wetenskaprigting wou studeer. Hy verwerf sy BSc in Plant- en Dierkunde aan die Stellenboschse Universiteit, en daarna sy onderwyskwalifikasie aan die Vrystaatse Universiteit. Sy eerste pos was by die gekombineerde skool in Ventersburg waar hy as jong Biologie-onderwyser begin.

Drie jaar later word hy bevorder tot departementshoof vir Biologie by die Sarel Cilliers gekombineerde skool in Koppies, waarna hy in 1992 die pos as adjunkhoof kry by Afrikaans Hoër in Kroonstad.

So het sy onderwysloopbaan hom al die pad langs die N1 geneem tot by Parys waar hy vir 29 jaar die pad as hoof geloop het – dikwels eerste op die terrein soggens, en smiddae gereeld die laaste om huis toe te gaan.

“Ek sal altyd my eerste matriekklas in Ventersburg en op Koppies onthou,” vertel hy, en gesels oor die jare waarin hy dikwels moes leer om anders te dink en te doen om aan te pas by veranderinge in die onderwys. Maar nie een dag het hy politiek uit sy stoel bedryf nie. Altyd baklei vir sy personeel, die leerders en die skool, en dit is sy personeel en ‘n ondersteunende ouergemeenskap wat hom staande gehou het, sê hy.

Vir hom sal elke jaar se akademiese uitslae altyd een van die hoogtepunte bly – nie net die A-simbole wat behaal is nie, maar selfs die matrikulante vir wie dit ‘n opdraande pad was, wat volhard en klaargemaak het. “Ook op sport en kultuurvlak het die skool sy plek volgestaan.”

Van links is Ezilda Fouché, Izelle van Heerden, Marli Kruger en Christelle Fouche, saam met mnr. Lucien van Zyl. Dié vier personeellede was vandat mnr. Van Zyl by die skool begin het as hoof, deel van die personeel-span.
Lindie Daniel sal as hoof van Hoërskool Parys waarneem totdat ‘n aanstelling deur die departement gemaak is. By haar is mnr. Lucien van Zyl wat na byna drie dekades as hoof van Hoërskool Parys afgetree het.

“As gemeenskap moet ons ons skool op pas. Ruimte skep vir mekaar en mekaar in ag neem. Ek het geen twyfel dat die personeel wat hier is, die skool sal vorentoe vat nie. Dit is ‘n vlagskip skool,” sê die man vir wie Hoërskool Parys altyd ‘n plek in sy hart sal hê. Nie een dag het hy opgesien om skool toe te gaan nie.

Noudat die bos sleutels vir sy opvolger oorgegee is, sal Lucien en Verona van Zyl aanbly in Parys. Hy gaan meer tyd maak vir stap en gholf speel, dinge by die huis doen, en sy kinders en kleinkinders geniet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button