Viljoenskroon: Hier’s dit mos lekker
Die dorp en sy mense ken van saamstaan en saamwerk en het JOU NOU baie nodig.

As jy egte plattelandse hartlikheid wil ervaar en verlang na die rustigheid van ‘n dorp waar jy nog met ope arms ontvang en op die hande gedra word, hoef jy nie verder as Viljoenskroon te soek nie.
Dié dorp se mense ken van saamwerk en saamstaan om ‘n verskil te maak. Hier in die hart van die Vrystaat sal die landbougemeenskap jou uit jou sokkies uit bederf en kan jy weet dat elke plek waar jy in die dorp by kom, kan jy regmaak vir ‘n vriendelike geselsie.
Of jy hier gebore is, deurry, hierheen sou trek of net kom kuier of inloer – Viljoenskroon se mense is sout van die aarde mense.

Die dorp is vanjaar saam met Fauresmith en Rosendal een van die Vrystaatse semi-finaliste vir Kwêla se Dorp van die Jaar kompetisie wat in samewerking met Lottoland aangebied word. En nou het die dorp jou stem nodig om dit tot in die finale rondte te maak.


Stemlyne is oop van vandag af tot en met 25 April en al wat jy moet doen is om die woord, Viljoenskroon te SMS na 33157. Elke SMS kos R1,50 en jy kan tot 30 SMS’e per nommer stuur. Gratis SMS’e kwalifiseer nie.

Die storie van Viljoenskroon
Viljoenskroon het in 1921 tot stand gekom op die plaas Mahemskuil en is genoem na die oorspronklike plaaseienaar, JJ Viljoen, en sy perd Kroon. Dit is n landbougemeenskap by uitstek met een van die grootste graanssilo’s in die land.




Die dorp spog ook met ‘n 18-putjie gholfbaan en sien jy gereeld hoe die dorp se sakegemeenskap, skole, liefdadigheidsorganisasies, en inwoners hande vat om hul trots op die dorp te wys.


Hoe werk Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie?
Dorpe met minder as 500 000 inwoners wat nog nie ‘n streekwenner in die afgelope twee jaar was nie, of as wenner aangewys is nie, kon uit al nege streke van die land asook Namibië genomineer word vir die kompetisie. Mense het daarna kans gehad om te stem vir hul gunsteling dorp, en het die drie dorpe met die meeste benoemings in elke streek deurgedring na die semi-finale rondte.
Nadat die finalis dorp met die meeste stemme in elke streek aangewys is, sal die publiek weer van 19:00 op 13 Julie tot 12:00 op 18 Julie vir vanjaar se wendorp kan stem. Die Wendorp word op 2 Augustus op Kwêla aangekondig.
Vir die wendorp is daar ’n ongelooflike R1m se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, gaan ’n advertensie van 45 sekondes oor die dorp maak wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai word.
Daar gaan ook ‘n groot afskop in die wendorp wees – musiek, kos, pret en baie van daardie wendorp-gees! Kwêla sal weer daar wees om dit te verfilm, en dit sal later vanjaar uitgesaai word. Lottoland skenk ook in hulle eie hoedanighed ‘n R1m kontantprys vir die dorp om in hul dorp terug te ploeg en wat deur hulle geoudit sal word. Elke finalisdorp sal vooraf gevra word om ‘n sakeplan in te dien oor wat hulle van plan is om met die potensiële prysgeld te doen.



Dankie aan Viljoenskroon se inwoners wat die foto’s van hul mooi dorp wat in die artikel gebruik is, verskaf het.



