Local newsNews

We Care gee terug aan die gemeenskap

WeCare is n vrywilliger organisasie wat nou saamwerk met die polisie, sekuriteitsmaatskappye en nooddienste om n verskil in jou gemeenskap te maak.

Vir bykans ‘n dekade is die vrywilliger organisasie WeCare ‘n trotse instelling in Parys.
Die organisasie het sy ontstaan te danke gehad aan ‘n omgee groep tussen bure wat bekommernisse gehad het oor hul eie veiligheid en munisipale dienslewering en graag beter skakeling met die polisie en nooddienste wou hê. Na die aanvanklilke sukses van die groep, het WeCare vinnig gegroei tot ‘n dorpswye  organisasie wat formeel geregistreer is as ‘n Artikel-21 nie-wins organisasie.
WeCare is ook ingelyf en word erken deur die SAPD, en vervul sedert sy stigting steeds ‘n belangrike rol in die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF), en as eerste kontak in enige noodsituasie.
As vrywilliger organisasie het dit ‘n instelling geword wat deur inwoners vir inwoners ‘n gerespekteerde teenwoordigheid is in die beskerming van gemeenskapsbelange.
WeCare word beman en bedryf deur ‘n klein span toegewyde vrywillige mans en dames wat in en om Parys woon. Gevolglik is WeCare  nie ‘n kommersiële besigheid of subskripsie sekuriteitsmaatskappy nie. Lede stel vrywillig hul talente en hulp gratis beskikbaar vir mede-Parysenaars in nood.
Ongelukkig gebeur dit dat die organisasie oor die jare ook vrywilligers verloor het wat verhuis, afgetree of oorlede is. Daarom is daar altyd gewillige hande nodig wat graag met toewyding ‘n verskil in die gemeenskap wil maak. Jy kan gerus met Dorette kontak maak by 071 554 7966 as jy betrokke wil raak.
WeCare se Wynand Nel help gereeld selfs om slange uit huise en erwe te verwyder.
 WeCare se oorhoofse onkostes word uitsluitlik gedra deur donasies van die publiek wat dan gebruik word vir die onderhoud van toerusting, versekering, opleiding van vrywilligers en verpligte finansiële dienste.
WeCare doen daarom ‘n beroep op inwoners van Parys om donasies of hul talente as vrywilligers by te voeg by die organisasie om sodoende WeCare se voortbestaan en impak in Parys te verseker in toenemend onseker tye waar hulpverlening in nood ‘n al groter wordende behoefte is.
Omdat WeCare bewus is daarvan dat baie mense self ook in moeilike finansiële posisies is, met baie wat  net van ‘n SASSA-toelae afhanklik is en sukkel om kop bo water te hou, is die We Care – Paying it forward projek  bekendgestel.
Hoe werk dit?
As jy gedurende die maand enige donasie aan We Care maak, gebruik  jou selfoonnommer as verwysingsnommer. Aan die begin van maand sal ’n trekking op die eerste dag van die maand gehou word uit al die selfoonnommers op die betalingsverwysings van persone wat bygedra het.
Wat is op die spel?
Die gelukkige wenner  sal 50% van die totale donasies wat vir die maand ontvang is, kry.
 Indien R1000 in totaal byvoorbeeld ontvang is, sal R500 aan die wenner oorbetaal word.
Die wenner het ook die opsie om die bedrag aan iemand anders of aan ’n instansie van hul keuse te skenk — jy besluit self wat met die geld gebeur!
Belangrike kennisgewing:
Sou die wenner op die dag van die trekking gekontak word en nie die oproep beantwoord nie, sal nog twee pogings aangewend word om die wenner te kontak.  As daar steeds geen antwoord is nie, sal ’n tweede wenner aangewys en geskakel word. Maak dus seker dat jy op daardie dag bereikbaar is.
Wat gebeur met die ander 50%?
Die oorblywende 50% van die donasies sal gebruik word vir We Care se lopende uitgawes. Dit sluit in uitbreiding van hul projekte, aankoop van toerusting en administratiewe kostes. Só help jy om WeCare se dienste uit te brei en volhoubaarhulp aan die gemeentskap te verleen.
Onthou egter as jou selfoonnommer nie as verwysingsnommer by jou donasie gevoeg is nie, sal jy ongelukkig nie in aanmerking kom vir die trekking nie.
WeCare sê dankie aan elkeen wat die organisasie oor jare ondersteun en help om ‘n verskil te maak.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button