Brandbestrydingsopleiding versterk reaksievermoë
Met die opleiding word 'n netwerk gebou van opgeleide individue wat vinnig en doeltreffend op brande in hul eie gemeenskappe kan reageer.
“Hierdie opleiding gee mense werklike vaardighede wat gebruik kan word om lewens te red en natuurlike hulpbronne te beskerm.”
So het Johan Breytenbach van die FSUFPA-program gesê na die suksesvolle opleiding van ‘n groep plaaswerkers wat met teoretiese en praktiese opleiding toegerus is met die nodige vaardighede in onder meer brandgedrag, veilige brandbestrydingstegnieke, toerustinghantering, spanwerk en noodreaksiestrategieë.
Die inisiatief is danksy die Vaal Eden Brandbeskermingsvereniging (BBV) wat die groep plaaswerkers van verskeie BBV-lede laat oplei het met die program aangebied deur FSUFPA.
Die opleiding was spesifiek daarop gemik om brandreaksievermoëns in die Vaal Eden Brandbeskermingsvereniging te versterk. Verskeie werkers het die opleiding suksesvol voltooi.
Die opleiding was daarop gemik om deelnemers toe te rus met kritieke vaardighede in veldbrandvoorkoming, onderdrukking en veiligheidsprosedures. Met Suid-Afrika wat toenemend die gevolge van klimaatsverandering ervaar – insluitend warmer, droër toestande – het die risiko van onbeheerde veldbrande ‘n groeiende kommer geword.
Baie van die studente kom uit brandgevoelige gebiede waar vinnige reaksie noodsaaklik is om grootskaalse skade te voorkom.
“Ek weet nou hoe om ‘n brand op die plaas te beheer en die omgewing teen die gevaar van veldbrande te beskerm,” het Andile, een van die studente van die program, gesê. “Voor hierdie opleiding het ons nie geweet hoe om te reageer wanneer brande ontstaan het nie. Nou is ons gereed.”
Breytenbach sê met die opleiding word ‘n netwerk gebou van opgeleide individue wat vinnig en doeltreffend op brande in hul eie gemeenskappe kan reageer.
Die suksesvolle voltooiing van die opleiding is ‘n stap vorentoe in die skep van nakoming vir boere ingevolge die DFFE-wet 101 van 1998.




