Sewe dekades van diensbaarheid by Shellhole gevier
Dit is hierdie manne en vroue wat die wreedheid, ontbering en swaarkry van oorloë beleef het, maar wat die keuse gemaak het om nou met welwillendheid en vriendskap uit te reik na hulle wat saam met hulle geveg het, maar ook in hul gemeenskappe, ongeag maatskaplike status of politieke oortuiging. Dit wat die Moths vrywillig in hul onderskeie ‘Shellholes” doen, word wyd erken.
Op hul lapelwapens is ‘n miniatuur staalhelm. Die simbool van die Memorable Order of Tin Hats (Moths). Dit is wat hulle saamsnoer met troue kameraadskap, onderlinge hulp en opregte nagedagtenis om dié te onthou wat nie meer daar is nie. Hulle wie sy aan sy geveg het, maar die hoogste prys moes betaal.
Vir sewe dekades is die Barrage Shellhole in Parys deel van hierdie edel landwye organisasie van dienende en oudgediende mans en vroue oor die land wat ‘n diens gelewer het in ‘n aktiewe oorlogstoneel, insluitend ons grensoorloë, en wie steeds ‘n verskil maak in hul gemeenskapge deur die werk van die Moths.
Die Barrage Shellhole het op 12 April sy 70ste bestaansjaar gevier en is teruggekyk op vele hoogtepunte sedert die stigting van die Shellhole op 30 April 1955 deur John Gay, C. van Schalkwyk, Tom Carter en T.A. Gradwell in die destydse Imperial Hotel. Vyftien moontlike lede is toe voorgestel, en die eerste komitee op 24 Mei gekies met John Gay as eerste Old Bill vir die Barrage Shellhole.
Op die oorspronklike Shellhole bestuur was OB John Gay (a past OB at Black Sheep Shellhole Windhoek), DOB Akerman, Adj Solly Rubin, P/Bill Tom Carter en Play Bill Lionel Schalkwyk
Die keuse van die Shellhole naam verwys na die Barrage stroomop in die Vaalrivier, en militêre artillerie vuur (Barrage).
Oor die jare het die ledetal gegroei, en is mettertyd eers van die Rotaryklub se fasiliteite gebruik gemaak, en later ook van die ou perseel van die dorp se tennisklub. In 1997 is die grond langs die kommandokantore op ‘n veiling gekoop, en is begin met bouwerk op die Moths se eie perseel,
Foto’s wat oor jare geneem is wys lede fier en regop, trots in uniform by ‘n gedenkteken of monument op die Sondag naaste aan 7 Mei met die herdenking van die stigting van die Moths. So ook op die Sondag naaste aan 23 Oktober vir die herdenking van El Alamein, en in November vir die herdenking van die beëindiging van Wêreldoorlog I.


Daar was vele gemeenskapsprojekte waar uitgereik is na onder meer kinders, bejaardes en hulle wat minder het – gesellige saamkuier geleenthede soos die Moths se buitelug braai, en trotse herinneringe aan die Ferret wat in 1990 aan die Shellhole geleen en gerestoureer is totdat dit weer sy pad teruggvind het na die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.
Groot oomblikke soos in 2020/21 toe een van die Shellhole-lede, André Coetsee, die eer te beurt geval het om as Old Bill van die Orde aangewys te word. Die hoogste erkenning wat ‘n lid van die Orde kan ontvang, en vir wie die voorreg nog net vir vier Vrystaatste lede beskore was.
Wie en wat is die Memorable Order of Tin Hats (M.O.T.H)?
Die Moths is ’n nie-politiese, niesektariese organisasie, wat hoewel dit in Suid-Afrika gestig is, ook ‘Shellholes’ in Engeland, Ierland, Namibië, Zimbabwe, Zambië en Swaziland het.
Hulle help behoeftiges, bou huise vir oudgediendes, dra by tot finansiële en ander hulp vir liefdadigheid, voorsien beurse en onderwystoelaes, reik uit na gewondes in militêre hospitale, en vereer diegene wat gedurende oorloë gesneuwel het.
Dit is hierdie manne en vroue wat die wreedheid, ontbering en swaarkry van oorloë beleef het, maar wat die keuse gemaak het om nou met welwillendheid en vriendskap uit te reik na hulle wat saam met hulle geveg het, maar ook in hul gemeenskappe, ongeag maatskaplike status of politieke oortuiging. Dit wat die Moths vrywillig in hul onderskeie ‘Shellholes” doen, word wyd erken.



