Local newsNews

Erfenisstigting verskuif grense met 3D-projek

Elke voorwerp in die museumversameling word gedokumenteer en gedigitaliseer, wat beteken dat daar ’n foto geneem en deeglike navorsing gedoen word.

Het jy al ooit daarvan gedroom om ’n historiese voorwerp behoorlik van nader te bekyk; ’n besonderse stuk se storie en historiese hartklop te hoor, én ’n aktiewe rol in die bewaringvan só ’n erfenisskat vir die volgende geslag te speel?

Die Erfenisstigting (ES), wat in die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument gesetel is, maak kosbare items in die ES-museum nou vir Jan Alleman toeganklik.

Kristen Naude, aktrise en deel van die Liewe Voorwerp-span, is besig met die delikate proses om ’n bebloede Voortrekkerkappie – wat tans in die Voortrekkermonumentse Senotaafsaal ten toon gestel word – in te skandeer.

Danksy die ES se Liewe Voorwerp-projek, ’n baanbrekersprojek in Suid-Afrika, word die Stigting se museumdeure as’t ware in die kuberruim vir die publiek oopgegooi en kosbaarhede op ’n moderne en eietydse manier ontsluit. Gewapen met ’n  skandeertoepassing op hul selfone, word besonderse argiefstukke en museumvoorwerpe driedimensioneel deur die ES-span vasgevang.

“Dit is ’n lang en tydrowende proses om ’n item driedimensioneel in te skandeer en só ’n digitale lêer is enorm,” vertel Monique Lubbe, kurator van die ES. “Dit is egter ’n ongelooflik voorreg om die verhaal van hierdie onvervangbare voorwerpe nou met ’n veel wer gehoor wêreldwyd te deel.”

Die Liewe Voorwerp-span het selfs ’n stappie verder gegaan en die voorwerpe ’n stem gegee. Kristen Naude, aktrise by die ES se Museumteater, vertel die eerste voorwerp – ’n bebloede Voortrekkerkappie wat op ’n slagveld in KwaZulu-Natal opgetel is – se verhaal op ’n aangrypende manier, terwyl die kyker die kappie in die gemak van sy of haar rusbank in die rondte kan draai en van nader kan beskou. Kyk gerus hier na die kappie. Die ES huisves benewens ’n museum ook ’n enorme argief en navorsingsbiblioteek.

Volgens Lubbe word elke voorwerp in die museumversameling gedokumenteer en gedigitaliseer, wat beteken dat daar ’n foto geneem en deeglike navorsing gedoen word. Die tweede voorwerp wat onlangs op dié manier lewe gekry het, is ’n voorlaaier.

Lizette Jansen, bestuurder van die ES, sê om historiese voorwerpe volgens regulasies te bewaar, is baie duur. Die argief se temperatuur en vogpersentasie   moet gereguleer word, insekte moet uitgehou word en spesiale chemikalieë, en natuurlik heelwat tyd, word benodig om dié onvervangbare items skoon te  hou, te bewaar en te restoureer.

“Enigiemand met ’n liefde vir erfenisbewaring word genooi om finansieel by te dra om te verhinder dat hierdie historiese erfenisskatte in vergetelheid verdwyn. Die publiek kry die geleentheid om eienaarskap van hul erfenis te neem deur een van die Liewe Voorwerpe ‘aan te neem’. Elke voorwerp is aan ’n betaalplatform gekoppel. Skenkers kan hul eie borgbedrag kies en met die druk van ’n knoppie ’n historiese erflating aan die volgende
geslag waarborg,” sê Jansen.

Kristen Naude, Museumteater-aktrise en Monique Lubbe, kurator, besig om die
kappie van ’n ander hoek af in te skandeer.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button