Rekordboeke is verlede week by Graan SA se 57ste Nampo Oesdag herskryf met 87 191 besoekers – die meeste nog – wat die Oesdagplaas oor die vier dae besoek het. Met ‘n totaal van 900 uitstallers – sommige van sover as Amerika, Brittanje, Argentinië, Turkye en Brasilië – is reg laat geskied aan die tema, Wêreldwye landbou, Plaaslik.
Voertuie het elke dag in kilometer lange rye staan en wag om by die Oesdagterrein in te kom, maar ook die Nampo-vliegveld was die ene bedrywigheid met 377 vliegtuie en 69 helikopters wat oor die vier dae op die terrein geland het.
Die sonnige weer en bykomende dreineringsmaatreëls wat vroegtydig ingestel is om die terrein droog te kry na swaar reën in April in die Bothaville-distrik geval het, het verseker dat die Oesdagplaas weer kon spog met ‘n uitstaande terrein vir uitstallers.
Of dit bakkies, trekkers, die verskeiden-heid veerasse, demonstrasies, 4×4 vernuf, alles vir die jag- en wapenentoesias, kampeer en buitelewe, die damesprogram, of smaaklike wegneemetes was – daar was iets vir elkeen. Van die nuutste en duurste, tot ‘n tikkie nostalgie in Graan SA se Engen Trekkermuseum.
Aan vindingryke planne was daar ook geen gebrek by die bekende boerepatente kompetisie wat entrepreneurs se uitvindsels beloon het.











