Local newsNews

Skoenlappers van die Koepel: Waarom moet ons hulle bewaar?

Baie van die skoenlapperspesies in die Koepel het dan ook besondere mooi vlerkpatrone wat biologiese funksies

Daar is reeds 120 skoenlapperspesies in die Vredefort Koepel Wêreldefenis-gebied aangeteken – meer as twee keer soveel
skoenlapperspesies as in die Verenigde Koningkryk, en meer as vier keer soveel skoenlapperspesies as wat in Nieu-Seeland voorkom. Die vraag is – waarom kom daar soveel skoenlapperspesies in die Koepel voor?

Ekoloog en skoenlapperkenner, Reinier Terblanche, sê die antwoord lê opgesluit in habitatbewaring as die sleutel tot skoenlapperbewaring. Hy sê baie skoenlapperspesies gebruik net een of twee soorte inheemse plantspesies as gasheerplante waarvan hulle larwes kan leef. So byvoorbeeld gebruik die hintza-bloutjie (Zintha hintza) alleenlik die inheemse blinkblaar wag-‘nbietjie (Ziziphus mucronata) as gasheerplant vir hulle larwes.

Skitterbloustreepvlerkie/ Cigaritis natalensis, afgeneem by Thabela Thabeng. Foto: Reinier Terblanche.

“Die bosveld silwerkoldubbelstert (Eriboea jahlusa rex) is ‘n bosveldspesie wat in die Vredefort Koepel voorkom omdat sy gasheerplant die dopperuim (Pappea capensis) in sekere mikroklimate in die Vredefort Koepel voorkom,” sê Terblanche,

Hy voeg by dat daar wel skoenlapperspesies is soos die sondagsrokkie (Vanessa cardui) wat kon oorskakel na die gebruik van uitheemse plante en wat inderdaad baie plantsoorte as voedsel vir hulle ruspes kan gebruik. Sulke skoenlapperspesies, soos die sondagsrokkie, is dus baie volop.

Vanessa cardui/Sondagsrokkie,
ook genoem die Painted Lady. Foto:
Ferdie Jordaan.

Vir die meeste skoenlapperspesies wat in die Vredefort Koepel voorkom is bepaalde inheemse plantegroei in
die geskikte mikroklimaat noodsaaklik vir hul voortbestaan.

Baie van die skoenlapperspesies in die Koepel het dan ook besondere mooi vlerkpatrone wat biologiese funksies verrig soos kamoeflering, waarskuwing dat hulle giftig is, en ook vir verwarring. Dit alles om predasie te vermy.

Ook hiervan het die Vredefort Koepel baie sulke voorbeelde, vertel Terblanche. Volgens hom het skoenlappers in die Vredefort Koepel toerismepotensiaal. “Iets wat mens nou kan sê omdat al hoe meer mense die kleiner organismes in die veld begin waardeer. Skoenlappers is lewende kunswerke en daarom moet  ons hulle bewaar.”

Die Bosveld Silwerkoldubbelstert/ Eriboea jahlusa. Reinier Terblanche het die foto op Steenkampsberg in die Vredefort Koepel geneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button