Local newsNews

Ngwathe: ‘Tyd vir sagte ingrypings en skuldverskuiwing verby’

Die ontbinding van Ngwathe moet nie as bloot ’n regsoorwinning beskou word nie — dit is ’n wekroep. Gemeenskappe verdien beter.

AWISA, die handelsvereniging wat die belange van die water- en sanitasiebedryf in Afrika verteenwoordig, het sy stem gevoeg by verskeie politieke partye en organisasies wat die uitspraak van regter J.P. Daffue in die Vrystaatse Hoë Hof in die guns van AfriForum verwelkom het om die Ngwathe Plaaslike munisipaliteit onder admnistrasie te plaas.

In die opspraakwekkende uitspraak waar regter Daffue Vrydag bevind het dat die Ngwathe munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nagekom het nie, is gelas dat die Ngwathe munisipale raad in terme van ’n gestruktureerde hofinterdik ontbind moet word. Die Vrystaatse provinsiale regering moet ook ingevolge die hofuitspraak met onmiddellike effek by dié munisipaliteit ingryp met die aanstel van ‘n administrateur, maar is ook in ‘n ongewone beslissing bepaal dat daar elke drie maande aan die hof verslag gedoen moet word oor vordering in die munisipaliteit.

Daffue het bevind dat die raad disfunksioneel is en dat provinsiale regeringsdepartemente, en die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (SRTS) in die besonder, versuim het om in ooreenstemming met die grondwet by die munisipaliteit in te tree. Hy het daarop gewys dat dié saak ’n geskikte geval is waarby die hof die rol as waghond moet speel.

AWISA het benadruk dat volgens die jongste verslag van die Nasionale Tesourie die totale verbruikerskuld aan munisipaliteite teen 31 Maart toegeneem het tot R416.1 miljard — ’n verstommende toename vanaf R347.6 miljard in Maart 2024.  Verder skuld munisipaliteite  Waterrade meer as R28 miljard, en hierdie verdiepende krisis bedreig die volhoubaarheid van die rade en ondermyn enige poging om infrastruktuur in stand te hou of dienste te lewer.

AWSISA het ‘n dringende beroep op die sakesektor, die staat en die private sektor gedoen om hul munisipale skuld onmiddellik te vereffen. Die vereniging sê ook dit moet gepaard gaan met streng finansiële dissipline en gevolgbestuur binne munisipaliteite met minder fokus op die beskerming van disfunksionele munisipaliteite en meer fokus op die afdwing van geloofwaardige finansiële bestuursraamwerke, verbetering van inkomste-invordering en bevordering van operasionele doeltreffendheid.

AWISA het in antwoord op die hofuitspraak ten opsigte van Ngwathe gesê beslissende, professionele ommekeer in munisipale wanbestuur is nodig.  Die vereniging sê ’n reguleerder wat funksioneel onafhanklik van politieke strukture is, is noodsaaklik om prestasie te monitor, standaarde vas te stel en die regte van gebruikers — veral die mees kwesbares — te beskerm.

” Die tyd vir sagte ingrypings en skuldverskuiwing is verby. Leierskap moet nou deurslaggewend, dapper en in  openbare belang wees,” sê AWISA

“Die ontbinding van Ngwathe moet nie as bloot ’n regsoorwinning beskou word nie — dit is ’n wekroep. Gemeenskappe verdien beter. Met verbrokkelende plaaslike bestuur en gepolitiseerde Waterdiensowerhede (WSA) kan Suid-Afrika nie volhoubare ontwikkelingsdoelwitte bereik of sy ontwikkelingsideale verwesenlik nie,” is gesê.

“AWSISA en sy lede is gereed om enige ingryping te ondersteun wat die integriteit, kapasiteit en aanspreeklikheid van munisipale water- en sanitasiedienste herstel om watersekerheid te verseker,” het die vereniging benadruk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button